Ons hoor heel dikwels van mense wat as’t ware uit hierdie
wêreld wil ontvlug as gevolg van hul moeilike omstandighede.
Hulle kan nie verstaan hoekom die Here hulle “nog nie kom haal het nie?”
Dit is gewoonlik as gevolg van uiters ondraaglike omstandighede waarin hulle is.
Baie ernstige siekte, verpletterde verhoudings, groot materieële verlies,
werkloosheid, armoede, of selfs ouderdom,
is alles dinge wat hulle so laat voel en dink.
Paulus wou nie uit die wêreld “ontvlug” nie,
maar praat tog iets hiervan in Fil. 1:23-24:
“Ek is in ‘n tweestryd:
Ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees,
want dit is verreweg die beste,
maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.”
Die Boodskap beskryf verse 23-26 só:
“Ek voel soos iemand wat in twee verdeel is.
Aan die een kant wil ek graag by Christus wees.
Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit?
Maar aan die ander kant is dit vir julle beter,
en selfs nodig dat ek eers nog ‘n rukkie bly lewe.
Inderdaad is ek seker dat ek nie nou al sal doodgaan nie.
Ek sal nog ‘n ruk lank vir julle gespaar bly.
Ek moet julle eers verder op die pad van die geloof help,
sodat julle net al hoe blyer kan word omdat julle Christene is.
Ek weet mos, as ek binnekort weer daar by julle aangestap kom,
sal julle net nie uitgepraat kan raak
oor wat Christus Jesus alles vir my gedoen het nie.”
Paulus sit in haglike omstandighede in die tronk.
Hy was op hierdie stadium ook al oud.
Hy is ook nie gesond nie.
Maar hy maak steeds toekomsplanne!
Christene hou nie op leef terwyl hulle leef nie.
Hulle weet, soos Paulus, dat God ‘n bepaalde doel het,
met elke dag wat Hy jou nog hier laat leef!
‘n Vrou wat al hoog in ouderdom was,
en toe met kanker gediagnoseer is,
het teruggekeer van sendingwerk in Rusland.
Die leraar het aan haar gevra wat sy nóú gaan doen?
Sy het geantwoord dat sy ‘n nuwe lys van plekke gaan opstel,
waar sy nóg sendingwerk gaan doen.
Solank ons “hier” is, wil die Here ons hier gebruik.
Al is die lewe nie maklik nie, en soms baie moeilik!
Gordon Allport het gesê:
“Om die lewe te leef, beteken ook lyding.
Om die lewe te oorleef,
beteken dat jy sin in jou lyding moet ontdek.”
Dit is nie ‘n naïewe siening nie,
maar ‘n lewenswaarheid, wat uit die Woord van die Here groei,
dit wat Karl Barth gesê het oor die moeilike tye in ons lewe:
“As ‘n mens in God glo en Hom ken,
vra jy nie langer wat die sin van die lewe is nie.
Jy léwe in sy krag die sin van die lewe.”
Ernest