Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie,
dat God jou hoor as jy met Hom praat.
Selfs die eenvoudigste opregte gebed is kragtig.
Ook die gebed van ‘n kind.
Jakobus 5:16 sê tog “die gebed van ‘n gelowige,
het ‘n kragtige uitwerking”!
‘n Stortvloed woorde is nie nodig nie.
God hoor jou, al praat jy net na binne met “Here help my!”
Maar ons kan ook vrymoedig met God gesels!
Gebed is immers ‘n tweegesprek tussen God en ons.
God is nooit te besig vir jou nie,
en jou versoeke is nooit vir Hom onbenullig nie.
Om met God te praat is ‘n wonderlike voorreg.
Maar gebed is nie maar ‘n paar sinne wat ons,
onnadenkend, in die oggend en aand opsê nie.
Gebed is ‘n tweegesprek tussen ons Vader God,
ons Abba Vader, en ons.
Dit gaan oor ‘n verhouding wat ‘n leefstyl word.

C.S. Lewis sê God is nie “a grandfather in heaven”,
wat net sorg dat almal pret het, en dan verder uit hulle pad bly nie.
Gebed is ook nie om te “Google”,
en binne sekondes jou antwoorde te hê nie.
Ons praat nie met God en dan beantwoord Hy al ons vrae nie
Gebed is ook nie ‘n towerstaf nie.

Ons gebede word altyd beantwoord.
Maar nie noodwendig op die manier en tyd wat ons wou hê nie.
Dan voel ons dikwels dat God ons nie hoor nie.
Maar gee jy vir jou kinders letterlik alles wat hulle wil hê,
of wanneer hulle dit wil hê? Verseker nie.
Jy gee dit veral nie wanneer jy weet dit is nie goed vir hulle nie,
of dit gaan skade doen aan hulle nie.

Soms is die implikasie dat God sê “wag ‘n bietjie”,
of selfs dat jy lank moet wag omdat God met jou op die pad van groei is.
Ons wag moeilik op God want ons is “kits”-mense. Maar God is nie.
God spring nie as ons die gebedsknoppie druk nie.
Wanneer God nie reageer soos ons dink nie,
moet ons nie dink Hy is liefdeloos en gee nie om nie.
God reageer juis soos Hy reageer, en op die tyd wat Hy die beste ag,
omdat Hy oneindig lief is vir ons en so baie omgee!
Die “wagtyd” is die kosbaarste tyd waarin God ons vorm om op sy wil te fokus,
en waarin Hy aan ons karakter bou om meer en meer soos Jesus op te tree.

Dikwels verander gebed nie ons omstandighede nie,
maar dit verander óns!
Dit is een van die kosbaarste waarhede van gebed!
Dat God óns verander deur gebed!
Dat God sy doel met ons bereik deur ons gebede!

Ernest