Hebreërs 12:2-3 sê:
“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,
die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof.”
Volhard! Volharding is hier ‘n kernwoord.
Om end-uit-aan-te-hou! Selfs teen die stroom in.
Wie laat ons volhard in ons geloof?
Op wie moet ons vertrou in die geloofswedloop?
Op Jesue Christus, die Begin en Voleinder van ons geloof!
Hou jou oog gevestig op Hom!
Dan sal elke wind of golf van die lewe
jou nie heen en weer slinger nie – Ef.4:14.
Jou geloof is dan nie afhanklik van, en word nie rondgegooi deur,
wisselende omstandighede in jou lewe nie.
Hou jou oog gevestig op Jesus! Altyd!
Ons volg die Here om saam met Hom te gaan, waar Hy ons ookal heen lei.
Ons volg Hom nie sodat Hy saam met ons moet gaan nie.
Daarom moet ons gaan leef wat ons glo, en bely, en beloof.
As dit oor jouself gaan sal jy nie kan volhard nie.
Maar wanneer dit in die wedloop vir jou oor Jesus gaan,
jou oog gevestig op Hom, dan sal jy kan volhard,
want die Here het klaar alle magte oorwin wat jou daarvan wil weerhou.
Jy kan dan al jou kragte inspan, 1 Tim.6:12, want jou krag lê in God!
Hebreers 12:3 sê dan ook verder; ons moet die Here Jesus voor oë hou,
dan sal ons nie geestelik moeg word en uitsak nie.
Net soos wat geloof ‘n gawe van God is,
is volhardende geloof ook ‘n gawe van God.
Maar wat daarvan as jy val? Wat dan
Die beste atlete val ook.
Hou steeds jou oog op Jesus!
Nêrens in die teks staan jy moet eerste kom nie.
Jy moet in die krag van die Here volhardend klaarmaak.
Dit is wat tel. Wanneer jy val tel die Here jou op.
Hy vergewe jou. Hy laat jou voortgaan en klaarmaak.
Hy is die Voleinder van jou geloof!
Hou jou oog gevestig op Hom!
Volhard in jou geloof!
Ernest