Die Tsjeggiese skrywer en denker Vitezslav Gardavsky,
skryf ‘n aangrypende boek, “God Is Not Yet Dead”.
Hy sê die grootste bedreiging wat die mensdom in die gesig staar,
is dat baie mense sterf voordat hulle hul laaste asem uitblaas.
“Premature death”, noem hy dit.
Dit is die dood wat in mense se siel plaasvind,
terwyl hulle na die tyd nog vir jare aanhou leef.
Een of ander groot krisis in hulle lewe knak hulle lewenslus.
Hulle verander in lewende dooies.
Dinge soos misdaad, ernstige siekte, verhoudingsprobleme,
werkloosheid, en so meer, laat hulle geloof erg verweer.
In radeloosheid gee hulle moed op,
en dink God het sy rug op hulle gedraai.
Hulle sterf voortydig, al hou hulle nog aan met leef.
Dit is besig om met Elia te gebeur in 1 Konings 19.
Dit gebeur wanneer hy voor Isebel se moordenaars moet vlug.
Vers 4 sê:
“Elia self het egter ‘n dagreis ver die woestyn in gegaan.
Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood.
Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe,
want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
Maar dan daag God se engel by hom op.
Die engel kom nie om hom onder die braambos uit te sleep,
en hom te begrawe nie.
Die engel van God bring vir die man van God lewenskos,
vir die lang reis vorentoe, volgens vers 7.
Dit is nog lank nie tyd vir doodgaan nie! Die reis is nog lank!
Die roeping van God laat jou nie ophou lewe as kind van die Here,
totdat God sy goddelike doel met jou,
en deur jou met ander bereik het nie.
Daarom vra God twee keer, in verse 9 en 13, vir Elia:
“Wat maak jy hier, Elia?”
God deel vir mense wat lewensmoeg raak ekstra lewenskos uit!
Wanneer dit vir jou lyk of die hele lewe teen jou is,
en voel asof God jou afgeskryf het,
dan daag hemelse noodhulp op, soos met Elia.
Kyk wat gebeur dan wanneer God jou optel, in vers 15:
“Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om….!”
God lewer vandag vir jou die lewenskos af om voort te gaan op jou pad.
En as jy al gaan lê het onder die besembos, eet opnuut God se lewenskos,
en draai saam met God in jou spore om!
Hy wil nog groot dinge deur jou doen….soos met Elia.
Ernest