Lees maar Jakobus 1 en 4 vir bevestiging.
God veroorsaak nie slegte omstandighede nie.
Slegte omstandighede is meestal ons eie skuld,
ons eie keuses, asook die van ánder mense rondom ons.
Mense wat deur húlle optredes en keuses ons seermaak.
Ons moet nie in moeilike tye allerlei vingers na God wys nie.

Ons leer by Jeremia dat swaarkry eenvoudig ook deel van die lewe is.
En dit sal so wees tot en met die wederkoms.
Kom ons hou op om alles te probeer verklaar,
en antwoorde van God te eis!
Wanneer ons ons trompop vasloop teen die lewe, soos teen ‘n muur,
dan is God se genade niks minder as ooit beskikbaar vir ons nie.

Jeremia het dit ook so ondervind.
Dit gaan so sleg met hom dat hy sy geboortedag verwyt.
Hy lê allerhande aanklagte voor God se deur.
Maar God beveel hom om op te hou met sy onsinnige praatjies.
Jeremia wil as’t ware bedank uit God se diens.
Maar dit is eenvoudig geen opsie vir God nie.
Al opsie is om na God se voete toe te kom met jou seerkry,
worsteling, onsekerheid en twyfel.
Daar leer ons dat God se wil toe nie vir ons verander het nie,
dat Hy ons toe nie in die steek gelaat het nie.

Die storms in ons lewe is geen teken of bewys dat God teen ons draai nie.
In Jeremia 15:20 sê God vir Jeremia dat Hy hom ‘n bronsmuur maak.
Hulle sal nie daardeur kan dring nie.
Hulle sal teen Jeremia veg, maar hom nie oorweldig nie.
“….want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou help en jou red.”

Ernest