Ons hou nie van stilte nie. Selfs nie eers in ons gebede nie.
Wanneer daar stiltes kom raak ons ongemaklik en wil praat.
Ook in ons gebede wanneer dit stil raak, wil ons bid,
of hoop iemand anders bid,… net nie stilte nie.
Ons hou veral nie van stilte as dit van God se kant afkomstig is nie.
Sý stilte beleef ons alte maklik as ‘n koue skouer,
of dat Hy sy rug op ons draai, of dat Hy besig is met belangriker dinge.
Ons verlang deurgaans ‘n tasbare, sigbare,
of beleefbare teken van God se kant af, dat ons nie alleen is nie.
Dit geld veral in ons nood en krisistye.
Veral dán, is stilte die laaste ding wat ons wil hoor.
Veral dan moet God praat, en duidelik praat….
Dan moet Hy uitkoms gee, en vining ook.
Stilte is egter dikwels die duidelikste manier waarop God praat.
In 1 Konings 19:11-12 is God se stem nie waarin Elia Hom verwag nie,
nie in die sterk wind wat die berg stukkend ruk en rotse breek nie,
ook nie in die aardbewing nie, ook nie in die vuur nie,
maar God is “in ‘n fluistering in die windstilte”.
Stilte is dikwels God se manier van praat.
Stilte beteken nie dat God nie luister nie.
Hy is nie dan besig met belangriker dinge nie.
Stilte van God se kant af is verseker nie afwesigheid van God nie.
Ons moet nou mos glo wat ons bely!
Dat God deurlopend by ons teenwoordig is!
En God is nooit ooit passief teenwoordig nie.
God is nie passief nie, maar die handelende God.
In Hebreers 13:5 sê die Here so duidelik:
“Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie”.
Glo dit! God self sê dit. Vers 6 sê verder:
“Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie…”
God is nié afwesig in stilte nie!
Iemand skryf dat as jy nie onlangs van God gehoor het nie,
is dit dalk omdat Hy, soos enige goeie leermeester,
nie praat terwyl sy student ‘n toets aflê nie.
God se stem is verseker nie sy enigste manier van kommunikasie nie.
Sy stille teenwoordigheid is ook sy volle teenwoordigheid!
Ons moet nie God se oënskynlike stiltes verkeerd verstaan nie.
Daarin hoor ons diwels die beste, as ons net wil luister….en ophou praat.
Ernest