God se wil is in die eerste plek in sy Woord,
en die boodskap van die kruis te vind.
Ons hoor dikwels in die algemene spreektaal:
“Jy moet jou skoolgeld op die harde manier betaal.”
Iemand sê: “God het my al baie harde skoolgeld laat betaal”.
Dan word bedoel dat ons deur probeer en tref,
en uit ons foute moet leer.
Hierdie idee is waar wat mense betref,
maar nie wanneer dit oor God en sy wil gaan nie.
God se doel is nie dat ons moet “skoolgeld betaal” uit ons foute nie.
Inteendeel. God gee duidelik sy wil in sy Woord vir ons.
God wil dat ons sy wil ken, en verstaan, en leef.
Hy gee sy Woord vir ons, juis om ons van foute te spaar.
Juis om ons van die sonde en verkeerde weë weg te lei.
Dit is ons eie ongehoorsaamheid, of dwaasheid,
wat ons “skoolgeld laat betaal”, nie God nie.
God het lankal alles vir ons by die kruis betaal.
Daar is al die skuld betaal. Daar is alle lesse afgehandel.
Daar leer ons God se liefde ken, sy deernis, sy genade.
Ons moet nie “die skoolgeld van omstandighede in ons eie lewe”
die 67e boek van die Bybel maak nie.
Ons moet volledig glo en leef wat God in die 66 boeke van die Bybel gee.
God se wil is daar te vind, in sy Woord en by die kruis.
Hy is nie van omstandighede afhanklik om ons “lesse te leer” nie.
Wanneer ons iets oor God moet leer, neem Hy ons na sy Woord toe.
My eie swaar of seer moet nie harder praat as wat by die kruis gebeur nie.
1 Johannes 4:10:
“Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie,
maar die liefde wat Hy aan ons bewys het,
deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”
Ernest