In die Nuwe Testament was die kerk van die begin af nooit
sinoniem met bepaalde strukture, ordes, of byeenkomste nie.
Daar was ook nie kerkgeboue nie.
Daar was inderdaad baie heilige geboue in die stede.
Soos die tempel in Jerusalem se oorblyfsels, en sinagoges,
en die tempel van Artemis in Efese.
Geboue van verskillende godsdienste.
Maar Paulus kies lynreg teen hierdie kultiese modelle in.
Hy kies vir ‘n familiemodel,
om die eie aard van die Here se kerk te vergestalt.
Dit gaan oor mense en verhoudinge!
Vir Paulus is die kerk die groeiende versorgende familie van God.
Dit is waar mense mekaar opbou, koester en liefhet.
Mense wat ter wille van die Here in harmonie saam leef,
vir mekaar bid, mekaar dien, mekaar vermaan,
bemoedig, beskerm, vertrou en mekaar ondersteun.
Hulle is die nuwe volk van God in die eindtyd,
tussen die eerste en die tweede koms van Christus.
Daarom sê hy treffend vir én van die Tessalonisense:
“Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering,
die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde,
en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.”

Ongelukkig verander die kerk se karakter vanaf die vierde eeu.
Konstantyn maak dit as’t ware staatskerk.
Dit word ‘n statiese instelling, en godsdienstige aktiwiteite verskuif,
vanaf woonhuise na geboue wat spesiaal daarvoor ontwerp word.
En nou sê ons “ons gaan kerk toe”. En kerkwees word ‘n Sondag aktiwiteit.
Geestelike leiers word professionele figure,
en die amp van voorganger word ‘n voltydse beroep.
Dit laat die res van die “kerk” dink:
“Ons is maar net in deeltydse diens van die Here.”
Wat ‘n enorme fout!

Kom ons snap weer wat ware kerkwees beteken!
In die Nuwe Testament gaan dit oor die regte manier van leef!
Die hele week, nie net een dag nie, die hele jaar, jou hele lewe!
Die regte manier van in verhoudings leef met Jesus,
en ander mense, alle mense!
Dit gebeur voltyds! Met elke kind van die Here!
Voltyds in diens van die Here en jou medemens!
Verhoudings en nogmaals verhoudings. Daagliks en aanhoudend!
Daarom lééf die kerk! Die kerk sit nie in ‘n gebou vas nie!
Dit is ‘n dinamiese, lewende familie van God,
wat deur die krag van die Heilige Gees begelei word!
Die kerk is gewone mense wat elke dag van elke week
in die kragveld van God leef, en na álle ander mense toe beweeg.
Wat ‘n voorreg om deel van die lewende liggaam van Christus te wees!

Sit jy vas in die kerk….gebou….op ‘n Sondag?

Ernest