Die heel eerste naam vir volgelinge van Jesus was:
“mense van die weg”.
Hulle identiteit was van die begin af geleë in
hulle onvoorwaardelike liefde vir God,
en hulle liefdesdiens aan mekaar, en ander mense.
Die leiers was gewone mense,
wat die liggaam van Christus met hulle gawes gedien het.
In ons tyd word dikwels gepraat oor die toekoms van die kerk.
Ons moet eerder vra: Het die toekoms ‘n kerk?
Die Here het tog self beloof Hy sal sy kerk in stand hou!
Maar dit gaan nie oor die instelling en godsdiens per se nie.
Godsdiens bring dikwels vrees, skuldgevoelens,
kritiese ingesteldheid, kontrole en ‘n wettiese lewe.
Waaroor gaan dit dan regtig in die kerk van die Here?
Kerkwees is verseker nié om net meer mense
op kerklike sitplekke te laat beland nie!
Waar die liefde van die Here Jesus Christus
gewone mense aanraak, en hulle verander,
in nie-veroordelende, sagte mense,
wat die Here liefhet, en hulle medemens dien,
dáár leef hoop, én die kerk!
Waar mense warm harte het vir God se wêreld,
daar wen liefde en verhoudings. Daar is nuwe lewe en groei!
Waar Christus se genade oorwin,
daar wen vryheid, en koinonia.
Daar word nuwe verhoudings in liefde gebou,
midde in ons harde samelewing.
Aartsvyande word deur genade en vergifnis vriende!
Toegeruste gelowiges word elkeen waar hy of sy leef,
‘n voltydse bedienaar van die Woord.
Voltyds ja. Want in jou hele lewe dien en getuig jy.
Mense word omhels wat anders as “ons” lyk, glo,
praat en dink, sonder om hulle te veroordeel,
of in fotostate te verander wat by “ons” kerk inpas.
Dit gaan oor die herontdekking van Jesus se radikale boodskap
van onvoorwaardelike liefde en die uitleef daarvan!
Sien jy kans daarvoor om weer régtig,
régtig, kerk van die Here te wees?
Ernest