Deur die eeue is dit een van die dinge wat mense nog altyd graag wou doen.
Hulle wil kan vlieg! Self kan vlieg!
Yves Rossy het dit reggekry!
Rossy het vir homself vlerke gebou met ‘n enjin daaraan geheg.
Sy eie liggaam word as die raamwerk gebruik.
Die vlerke is agter aan sy hittebestande oorpak vasgeheg.
Sy eerste vlug het in 2004 naby Geneve in Switzerland plaasgevind.
Sedertdien het hy verskeie suksesvolle vlugte onderneem.
Maar baie van ons wil nie noodwendig so vlieg, soos Rossy nie.
Ons wil eintlik net uit ons omstandighede wegvlieg.
Dit voel soms of ons omstandighede ons eenvoudig oorweldig.
Ons wil net ontvlug!
Wegvlieg!
Psalm 55:7-9 praat al sulke woorde,
woorde waarmee ons dikwels kan vereenselwig:
“Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het,
sou ek wegvlieg en ‘n woonplek soek;
ek sou vêr wegvlieg en in die woestyn gaan bly;
ek sou haastig probeer wegkom van hierdie onstuimige wind,
van hierdie storm af.”
Dikwels voel ‘n mens om sommer net so,
om van jou stormagtige probleme af weg te vlieg!
Jou beproewinge, druk en frustrasies!
Maar soos die Psalmskrywer weet ons dit is nie ‘n opsie nie.
En daarom roep hy in vers 17 uit:
“Maar ek roep na God,
na die Here wat my sal red.”
En hy antwoord!
Jesus kom bied sy opsie aan:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,
en Ek sal julle rus gee.
Neem My juk op julle en leer van My…
en julle sal rus kry vir julle gemoed.” – Matt. 11:28-29.
Ons kan nie wegvlieg nie,
maar ons kan in Jesus se arms invlieg!
Om te ontsnap bring nie rus nie.
Dit stel net die probleme verder uit.
Net Jesus gee rus in jou gemoed!
Ernest