Steek grense oor in kerkwees.
Wanneer ons sien wat kerkwees,
volgens die Nuwe Testament, behels,
dan kan ons maklik dink dat ons tekortskiet hierin,
veral as indiwidue wat hierdie roeping wil uitleef.
Juis as jy dink jy is meer taak-georiënteerd as ander mense.
Mens-georiënteerde mense kom makliker met ander oor die weg.
Dit gebeur as’t ware spontaan met hulle.
Maar wat daarvan as jy dink jy is ‘n introvert,
en jy sosialiseer nie maklik nie.
Onthou, daar is nie een bloudruk vir verhoudings,
en hoe dit in die praktyk moet werk nie.
Goeie verhoudings is nie hand om die lyf loop
met elkeen wat jou pad kruis nie.
Dit is nie om elkeen se beste vriend te probeer wees nie.
Of om nooit konflik te hê nie.
Dit is ‘n doelbewuste keuse wat belangrik is.
Die Here wil hê ons moet na ander mense toe leef.
Dit is ‘n keuse vir openheid, en nie geslotenheid nie.
Die doelbewuste keuse om sensitief vir mense te wees.
Dit gaan oor gesonde verhoudings wat tot eer van die Here strek,
en ander mense opbou en dien.
Dit is ‘n doelbewuste keuse om nie ‘n eiland tussen mense te wees nie.
Die Here het aan elkeen gawes gegee om mee te gaan dien.
Ek moet gedurig onthou: Die lewe gaan nie om myself nie.
Ek word deur die Here geseën om ander tot seën te wees!
Ek word gered om tot heil van ander te leef.
Ek moet die liefde van die Here doelbewus verder laat uitkring.
Ek moet ander mense raaksien as unieke mense in eie reg.
Hulle is beelddraers van God!
Wanneer dit gebeur verskuif iets binne in my.
My hart gaan oop.
Dit is ‘n groeiproses waarin ons moet volhard.
Dit is juis iets waarop Paulus klem plaas wanneer hy
die gemeente in Tessalonika prys vir hulle “kerkwees”.
Hy gebruik woorde soos “werk”, “inspanning”, “volharding”.
1 Tess. 1:2-3:
“Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering,
die werk van julle geloof,
die inspanning van julle liefde,
en die volharding van julle hoop,
op ons Here Jesus Christus.”
Steek die grense na mense oor, saam met die Here!
Ernest