Baie mense sê “sien is glo”.
Hulle dink ook so ten opsigte van hulle geloof in God.
Kyk net na plakkate wat ons dikwels sien,
om geestelike byeenkomste te adverteer.
Ons word uitgenooi om na een of ander spreker te kom luister,
wat “in die hemel” was, of een of ander
“groot openbaring” van God ontvang het.
Dit wil dan voorkom asof groot bonatuurlike gebeurtenisse
die eintlike trekpleisters in ons geloof word.
Maar versterk hierdie bonatuurlike gebeurtenisse,
of die ervaring daarvan, regtig ons geloof?
Moet ons eers wag vir ‘n spesiale geestelike ervaring,…
voordat ons voluit sal glo?
Die geskiedenis van Abraham se lewe gee ‘n belangrike antwoord.
In Genesis 17:15 – 17 staan daar:
“God het ook nog vir Abraham gesê:
“Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara.
Ek sal haar seën en vir jou ‘n seun uit haar gee.
Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”
Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink:
Kan daar vir ‘n man van honderd ‘n kind gebore word,
of kan Sara wat negentig is, ‘n kind in die wêreld bring?”
Wat is die belangrike antwoord wat ons hierin vind?
Abraham was ‘n “bevoorregte” persoon.
Hy het nie die Bybel in die hand gehad waarin hy dit gelees het nie.
Hy het God se stem direk gehoor. God praat as’t ware padlangs met hom.
Die meeste van ons sou dink dat Abraham, juis daarom,
‘n baie sterk geloof sou moes hê,
dat God inderdaad gaan doen wat Hy hier vir Abraham sê!
Abraham het ook die meeste van die tyd groot geloof openbaar.
Hy word juis ook die vader van alle gelowiges genoem.
En tog het sy geloof hom elke nou en dan óók in die steek gelaat.
Ook hierin…
Reeds in Genesis 15 het God aan Abraham, in ‘n verbond,
grondgebied en ‘n groot nageslag belowe.
Maar Abraham begin na ‘n ruk aan hierdie belofte van God twyfel.
Hy en sy vrou is nou al te oud.
Abraham maak dan op die kantlyn sy eie planne om God “aan te help”.
In Genesis 16 lees ons hoe hy die seun, Ismael,
by sy slavin verwek, om dan as sy seun te dien.
Dit was nie hoe God dit wou doen nie.
Hy wou juis aan Sara ‘n kind gee,
soos Hy self in ‘n openbaring aan Abraham belowe het!
Daarom verskyn God nou wéér hier in ons teks aan Abraham,
nóg ‘n keer, met die belofte van ‘n groot geslag!
En dit deur Sara!
Dit is duidelik, direkte openbarings of bonatuurlike gebeurtenisse,
gee nie noodwendig aan gelowiges groter geloof nie!
Geloof is eenvoudig om God onvoorwaardelik op sy woord te neem.
Die Heilige Gees laat ons geloof groei.
Nie gebeurtenisse of ervarings nie….
Ernest