Ons is terug by Abraham en sy geloof.
Het dit hom gehelp om groter te glo,
omdat God meer as een keer persoonlik aan hom verskyn het?
Help persoonlike openbarings en bonatuurlike gebeurtenisse,
ons om beter of méér of groter te glo?
Wat sal jy doen as God twee keer, persoonlik,
aan jou verskyn en aan jou beloftes maak?
Twee keer belowe Hy dat Hy sal doen wat Hy sê!
Die meeste van ons sal sê dat ons “toe oë sal glo!”
Maar nie Abraham nie.
Die vader van alle gelowiges!

In Genesis 17:17 lag hy vir die Here,
toe die Here wéér vir hom sê dat Sara ‘n kind gaan hê.
Kan jy dit indink. Twee keer sê God dit. Abraham lag daaroor.
En hy het sy eie noodhulp plan om God “te help”.
Maar God is God. En in Genesis 18 word Isak gebore!

Openbarings versterk nie noodwendig jou geloof nie.
Die geloof van Abraham wys dit vir ons.
Ons moenie dink ons gaan noodwendig anders as Abraham optree nie.
Openbarings en visioene is nie kortpad-geloof nie.
Geloof gaan dikwels met twyfel gepaard.
Ons moet nie heeltyd verwag dat God,
met iets bonatuurlik, ons gaan láát glo nie.
Ons moet God regtig en eenvoudig onvoorwaardelik op sy woord neem!

Die wonderlike is dat God nie sy rug op Abraham draai toe hy lag nie.
God draai nie sy rug op ons wanneer ons twyfel nie. Goddank!
God gaan voort met Abraham, en hy sien dat God sy woord hou!
Ons sien dit met baie van die sogenaamde geloofshelde.
Soos Johannes die Doper en Elia.
God kom telkens ons kleingeloof tegemoet.
Onthou, geloof is om te sien terwyl jy niks sien nie!
“Om te glo….is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Hebreërs 11:1.

Ernest