Jesus het by twee geleenthede gesê: “Ek is die lewe…”
Hy sê dit vir Marta by die begrafnis van Lasarus,
en voeg in Johannes 11:25-26 by:
“Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook,
en elkeen wat lewe en in My glo,
sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
In Johannes 14:6 sê Jesus ook vir sy dissipels:
“Ek is …die lewe.”
Wat is lewe? Wat beteken dit om werklik te lewe?
Is dit goeie gesondheid, om baie ryk te wees,
geluk, roem, eer, geleerdheid, kennis…?
Die Bybel sê die lewe waarvan Jesus praat is:
Joh. 17:3: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken,
die enigste ware God en Jesus Christus wat deur U gestuur is.”
1 Joh. 5:12: “Wie die Seun het, het die lewe;
wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.”
Joh. 3:36: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe.”
Wanneer Jesus sê: “Ek is die lewe…”,
dan wys dit op die huidige lewe, hier en nou, en op die hiernamaals.
En Jesus verwys ook na die kwaliteit van ons lewe, hier en nou!
“Wie die Seun het, het die lewe”, Joh. 3:36,
en ons het hiérdie léwe in oorvloed, Joh. 10:10.
Ons ontvang dit as ‘n gawe van God,
deur wedergeboorte en bekering.
En ons moet dit noú reeds leef!
Hierdie lewe wat jy só ontvang, die ware lewe,
moet steeds ontwikkel en groei tot volwassenheid.
So volwasse soos Christus self is, sê Ef. 4:13.
Om hierdie lewe te kry, dit te laat groei en te ontwikkel,
geskied slegs in en deur Christus.
1 Joh.5:11 dui dit aan:
“God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.”
Meer nog, Christus géé nie net dié lewe nie, Hy ís dit!
Daarom sê Hy: “Ek is die lewe.”
Paulus se woorde aan die Kolossense in 4:3,
eggo die woorde van Jesus, as hy praat van “Christus, wat julle léwe is.”
Kom ons leef noú reeds die léwe in Christus, en dít in oorvloed!
Christus is ons lewe!
Ernest