Om te lewe, is vir my Christus!

Wanneer Jesus sê: “Ek is die lewe”,
Dan kan Paulus nie anders nie as om in Fil. 1:21 te reageer met :
“…om te lewe is vir my Christus…”
Daar is ‘n besondere dimensie in Paulus se woorde.
Van elke gelowige kan gesê word:
Christus is sy lewe, in dié sin dat hy sy nuwe lewe,
sy geestelike lewe, alleen aan Christus te danke het.

Maar Paulus sê meer as dit. Hy sê:
“Om te lewe, is vir my Christus.”
Daarmee sê hy dat sy hele lewe om Christus draai!
Sy hele lewe is op Christus gerig.
Sonder, of buite Christus om, is daar niks in sy lewe
wat sin maak en kan bevredig nie….
Ware lewe word vir hom in een woord saamgevat: Christus!

Dit is asof Paulus wil sê:
Vir ander mense mag om te lewe baie ander dinge beteken,
maar vir mý is om te lewe Christus!
Dit is ‘n persoonlike belydenis en ‘n persoonlike ervaring,
en nie net ‘n mooi lewensideaal nie.

Ons moet ook daarnatoe groei,
om nie net te sê: “Christus is my lewe” nie,
maar om ook saam met Paulus te kan sê:
“Om te lewe, is vir my Christus!”

Imitasie is nie genoeg nie, en ook nie moontlik nie!
Dit moet infiltrasie wees. Dit is wat nodig is.
Jesus moet in ons kom woon en sý lewe deur ons lewe!
Dit beteken deelname aan al die eienskappe van Jesus.
Daarom het Paulus gesê dat dit nie meer hý is wat lewe nie,
maar Christus ín en deur hom!

Jesus het sy lewe gegee sodat ons kan lewe!
Om vir ons die lewe te kon wees moes Hy sterwe.
Ware lewe kom deur die dood – vir Hom én vir ons!
Dit bevestig Paulus in Rom. 6:8:
“Ons het saam met Christus gesterwe;
daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.”

Sterf aan jouself, vir die ware lewe in Christus!

Ernest