Baie mense vra krities of dít nou is hoe ware lewe gelyk het,
die lewe van Jesus? Is sý voorbeeld ware lewe?
Jesus het maar ‘n armsalige lewe gevoer…volgens hulle.
Hy het arm grootgeword en arm gebly.
Hy sterf met een item in sy boedel: ‘n bondel tweedehandse klere.
Hy het nie met ‘n stoetperd rondgery nie,
maar stap met sy voete groot afstande op die stofpaaie.
Hy het self gesê hy het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie, Mat. 8:20.
Sy eie mense verguis Hom. Al wanneer hulle Hom toejuig,
is wanneer Hy op ‘n donkie na sy dood toe ry.
Om net kort daarna te skree: Kruisig Hom!
Terwyl Hy sterf word Hy uitgejou…
Is dít léwe?
Ons sien egter dat werklike lewe nie deur
uiterlike omstandighede bepaal word nie.
Lewensvervulling is die wete dat God ‘n doel met jou lewe het.
Dit het Jesus geweet, en kan elkeen van ons ook weet.
Daarvoor het God ons geskep en is ons hier!
Dit is ook die wete dat jy, soos Jesus,
besig is om daardie doel te vervul.
Dit bepaal of jy werklik lewe!
Jesus vat sy doel só saam in Joh. 4:34:
“My voedsel (juis dit wat Hom laat lewe),
is om die wil te doen van Hom wat my gestuur het,
en om sy werk te voltooi.”
Die Here Jesus het ook jou doel in die lewe kom saamvat in Mat. 6:33:
Beywer jou allereers vir die koninkryk van God en die wil van God!
Dit is God se lewensdoel vir jou,
waar jy ookal leef, en in wat jy ookal doen.
Uiteindelik sal dit jou die vreugde gee wat onbeskryflik groot is!
Hebreërs 12:2 sê dit ook van Jesus:
“Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was,
het Hy die kruis verduur.”
Ter wille van die vreugde in die Here,
sal jy ook alles van die ware lewe kan verduur!
En uiteindelik noú, en hierna, lewensvervulling beleef,
wat ookal die wêreld daarvan dink…
Ernest