Een van die seerste dinge, seker die seerste,
is wanneer jou intens opregte liefde verwerp word.
Baie mense het dit al ervaar.
Die pyn van opregte liefde wat in jou gesig teruggegooi word,
is intens seer. Soos met egskeiding, egbreek, rugsteek,
of ‘n ouer wat jou verwerp, of jou kind wat jou verwerp…

Jesus praat ook van hierdie intense seer wat Hy beleef,
met ons verwerping van sy liefde vir ons. Matteus 23 vanaf vers 37:
“Ai, wat maak julle, mense van Jerusalem?
Julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood.
Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou.
Ek het oor julle gevoel soos ‘n hen oor haar kuikens.
Maar julle wou niks weet nie. Julle het julle rug vir My gedraai.”
Hierdie woorde van Jesus laat jou intens seerkry.
Hoor jy die seer in sý stem?
Hoeveel keer het ons nie al ons rug op die Here gedraai nie….?

Jesus gebruik ook die beeld van ‘n hen en haar kuikens.
“Ek het oor julle gevoel soos ‘n hen oor haar kuikens.”
En jy dink jy verstaan iets van die beeld tot jy hierdie gebeure lees:
Yellow Stone-park het een jaar baie erg deurgeloop onder ‘n brand.
Nadat die brand uiteindelik geblus is,
het ‘n natuurbewaarder moedeloos deur die park gestap.
Terwyl hy stap het hy die verkoolde karkas van ‘n hen raakgesien.
Uit moedeloosheid en frustrasie het hy dit uit sy pad geskop.
Sy verbasing was baie groot toe hy onder die karkas
drie lewende kuikens sien,
wat deur die hen met haar liggaam en vlerke beskerm is!
Net ‘n bietjie verder het hy ook die klein karkasse van kuikens gesien.
Kuikens wat nie na die hen se geroep geluister het nie,
of te ver afgedwaal het.

Dit is presies Jesus se storie met ons!
Hoe intens seer kry ons nie om te weet;
Hy het homself vir ons lewe gegee,
homself vir ons geoffer aan die kruis,
soos ‘n brandoffer waarvan niks oorbly nie.
En steeds draai ons dikwels ons rug op sy intense liefde vir ons….

Ernest