Maak nie saak hoe sleg die lewe lyk,
en wat die feite van ons werklikheid is nie,
die feit wat alle feite oortref,
is die feit dat Jesus altyd by ons is.
Dit is nie maar ‘n goedvoel sê-ding nie,
maar die grootste werklikheid wat nooit verander nie!
Ons lees reeds in die Bybel in Matteus 24:6-7:
“Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver.
Maar moenie paniekerig word nie.
Hierdie dinge is bestem om te gebeur,
maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.
Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar,
en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees.”
Dit voel of daar nooit ‘n tyd was, beter as nou,
om te beantwoord aan hierdie woorde van die Here nie.
Mense raak ook op hol oor mense wat boeke skryf,
en boodskappe bring uit die Woord oor die eindtye.
Hulle voorspel tot die tye van die einde.
Maar kyk mooi na vers 6, en sien dat daar nie staan
dat die tekens die aanbreek van die einde is nie.
Net God weet.
Hierdie eeu verskil nie van die vorige eeue,
as dit kom by die tekens van die tye nie.
Oorloë, hongersnood, aardbewings en Christene wat vervolg word,
was nog altyd daar. Daarom sê Jesus dat ons getrou aan Hom moet bly,
en nie paniekerig raak oor allerhande tekens nie.
Dit laat ons dink aan die kerkvader uit Afrika, Ciprianus,
wat in die tweede eeu aan sy vriend Donatus skryf:
“Hierdie is ‘n vrolike wêreld soos ek dit sien in my tuin onder die wingerd.
Maar as ek teen ‘n hoë berg sou opklim,
weet ek goed dat ek rowers op die paaie sal sien,
seerowers op die see, weermagte wat baklei, stede wat brand,
en mense wat in amfiteaters vermoor word. Dit is ‘n bose wêreld Donatus.
Maar ek het te midde van die bose wêreld ‘n stil en heilige volk ontdek.
Hulle het ‘n vreugde ontdek wat ‘n duisend keer beter is,
as enige plesier in hierdie lewe. Hulle word verag en vervolg,
maar hulle gee nie om nie en gee nie op nie, oor vir Wie hulle dit doen.
Hulle het die wêreld oorwin! Hierdie mense, Donatus, is Christene…!
En ek is een van hulle!”
Jesus is altyd by ons!
Leef weer!
Ernest