Is jy gereed vir die koms van die Here?
Of is môre vir jou nog ‘n dag,
en jy is nie haastig om gereed te maak nie?
Wanneer Jesus oor sy wederkoms praat is dit om aan te dui
dat Hy verseker as Koning met gesag en mag wéér sal kom,
en ook om aan te dui die wêreld se geskiedenis, en joune,
is op pad na ‘n bepaalde bestemming.

Die tekens van die tye is daar om gelowiges
op ‘n gereedheidsgrondslag te hou vir Jesus se wederkoms,
en Jesus wil ook aandui dat jy nie jou ore moet uitleen aan
enige boodskappe wat jou aandag van Hom aftrek nie.

‘n Storie word vertel van drie leerlingduiwels.
Hulle moes sê wat hul planne is om mense tot ‘n val te bring.
Die eerste sê toe: “Ek sal vir hulle sê daar is geen God nie.”
Die hoofduiwel sê: “Dit sal nie veel help nie, die meeste wéét daar is ‘n God.”
Die tweede junior duiwel sê: “Ek sal vir hulle sê daar is geen hel nie.”
Die hoofduiwel sê: “Dit sal nie help nie. Die meeste wéét daar is ‘n hel.”
Die derde duiwel sê: “Ek sal vir hulle sê hulle moenie haastig wees nie,
veral nie met die Here se wil nie, want môre is nog ‘n dag.”
Die hoofduiwel het uitgeroep: “Gaan so gou as moontlik!
Jy sal duisende mense laat val.”

Jesus sê in Matteus 24:15 en verder:
“Wees verseker: Wanneer Hy kom, sal almal, en Ek bedoel almal, dit weet.
Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan,
en ‘n mens dan alles vir daardie oomblik helder kan sien.
So helder en duidelik sal almal die Seun ook sien wanneer Hy kom.”

Indien jy sou weet die Here kom regtig môre,
hoe sou jou lewe anders lyk tot dan?
Is môre regtig nog ‘n dag?...

Ernest