Wanneer jy wetties leef, is jy nie net self sonder vreugde nie,
maar jy hou ook elke ander een dop met valk-oë.
Kontrole in plaas van vryheid en vreugde.
So het die Fariseërs en Skrifgeleerdes ook vir Jesus dopgehou.
Ons lees in Markus 2 van vers 23 af:
“Een Sabbat het Jesus-hulle deur ‘n koringland gestap.
Sy dissipels het begin honger voel en pluk toe koringare af.
Die streng godsdienstige mense onder die Jode,
het hulle soos valke dopgehou, en sê toe vir Jesus:
“Waarom doen jou volgelinge dinge wat hulle weet verkeerd is?”
Die dissipels het seker al die vryheid en vreugde begin snap en beleef,
van in Jesus se teenwoordigheid te wees.

Tydens Jesus se lewe op aarde was daar 1521 dinge,
oor wat jy op ‘n Sabbat nie kon of moes doen nie!
Die vierde gebod het vir die Fariseërs eerder gelees:
Jy sal die lewe op die Sabbat nié geniet,
en nié vreugde hê in die Here nie!
Jesus konfronteer die streng godsdienstige mense juis hieroor.
Hulle neem die vreugde uit die verhouding met die Here,
met elke wet wat hulle maak en onderhou.
En dit wys Hy hier vir hulle ten opsigte van die Sabbat.

Jesus het ons vrygemaak van al die menslike reëls en wette.
Ten opsigte van hierdie Skrifgedeelte,
moet ook die Sondag vir ons nuwe inhoud hê,
‘n vreugdevolle en Godgevulde dag.
Soos Jesaja 58:13 wat die sabbat ‘n vreugde noem.
Hoeveel te meer moet die Sondag nie ‘n vreugde wees nie!
Die opstandingsdag wat ons oor en oor vier saam met Jesus!
Kent Ira Groff sê oor die Sondag: “Be prayful, playful, and passionate,
on Sunday, and every other day, in all spheres of life.”

Ons moet weer vreugde ontdek in ons verhouding met die Here.
Dit is wat die Westminster belydenis bedoel met vraag en antwoord 1:
“Wat is die hoogste doel en betekenis van die mens se bestaan?”
Antwoord: “Die hoogste doel en betekenis van die mens se bestaan,
is om God te vereer en Hom tot in alle ewigheid te geniet.”
Om God te geniet!
Vreugde op vreugde, in die Here!

Ernest