God word nie geraak of beïndruk deur ons aanbidding nie,
voor ons hart nie deur Hom geraak en beïndruk word nie.
Ons aanbidding kan maklik op uiterlike dinge gerig wees,
soos om “kerk toe te gaan”, sonder dat ons God daar ontmoet!
Dan is dit soos met die streng godsdienstiges,
vir wie die sabbat belangriker was as die Here self.

In Markus 3 lees ons van ‘n man met ‘n misvormde hand.
Die probleem vir die mense is dat die Here hom by die sinagoge raakloop,
op die sabbat. Weereens hou Jesus se vyande Hom fyn dop.
Vers 2 vra: “Sou Hy die man se hand op die sabbat gesond maak?”
Dan sou hulle Hom aankla! Jesus laat die man in die middel staan en vra:
“Is hierdie dag bedoel om ‘n lewe te red of te vernietig?”
Hulle antwoord nie en Jesus is diep bedroef oor hul gevoellose harte.
Toe sê Jesus vir die man: “Steek jou hand uit”, en sy hand word gesond.
Wat doen die godsdienstiges? Hulle gaan beplan hoe om Jesus dood te maak…

Dit is nie sonder rede dat die Here Jesus ‘n derde van sy wonderwerke,
wat in die Evangelies opgeteken staan, op ‘n sabbat gedoen het nie.
Daarmee wys Jesus dit gaan nie oor godsdiens nie,
maar oor God, oor lewe, en die mens!
Die vreugde van lewe in die Here,
wat meer as enige iets anders op die sabbat ervaar moet word.

Elke eerste dag van die week is ‘n Sondag. Opstandingsdag. Dag van lewe!
Dink jy ook aan die belang van “kerk toe gaan”, en wat jy nié moet doen nie?
Of gaan jy om die Here God in lewe te gaan ontmoet en te aanbid?
Elke sewe jaar het jy ‘n volle jaar van Sondae beleef!
Iemand wat 21 jaar oud is, het reeds 3 jaar van net Sondae gehad,
vir geestelike groei, ontmoetings met die Here, en hande uitsteek vir genesing!
Gaan steek op Sondae jou hande uit na die Here, in aanbidding, vir genesing.
Gaan steek dan in die week jou hande uit om te dien,
sodat ander mense ook hierdie genesing beleef, en lewe in die Here vind.
Steek jou hande uit en deel uit wat jy van die Here ontvang!

Toe sê Jesus: “Steek uit jou hand.”

Ernest