“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie,
en laat julle nie weer in vrees lewe nie;
nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak,
en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.” Rom. 8:15.

Die Heilige Gees maak ons los van godsdienstige wette en reëls.
Daarom het ons nie meer vrees vir mislukking in hierdie wette en reëls nie.
Daarom is ons nie meer slawe nie.
Die Heilige Gees maak ons kinders van God! Plaas ons in verhouding met God.
Laat ons intiem in hierdie verhouding uitroep en aanbid: “Abba – Vader”.

Leonard Sweet sê treffend:
“Sin is not a breaking of commands; sin is a breaking of relationships.
When we sin we do not break stone-bound laws, but heart-carved love.”

Die probleem is dat ons maklik verhoudings geringer ag as wette en reëls.
Sonde word vir ons ongehoorsaamheid aan bepaalde Bybeltekste.
Ons vergeet egter dat Bybeltekste juis in verhoudings
tussen God en mens tot stand gekom het.
Bybelse bevele is nie kliniese opdragte wat mense slaafs uitvoer,
net omdat hulle bang is vir God nie.
Daarom sê Romeine 8 ons is nie langer slawe nie.
Ons is nou kinders van God!

Ons leef nou verhoudingsmatig saam met God en mense.
Die koninkryk van God kom wanneer Jesus
tussen ons opdaag met genade!
Genade gebeur net in verhoudings.
Genade is God se hemelse geskenk,
en die kans van ‘n leeftyd om in verhouding met God te leef.
So intiem soos “Abba-Vader”.
God se koninkryk kom by wyse van menslike mosterdsaadjies,
wat verhoudingsmatig gesaai word.
Menslike sout wat mense vir die koninkryk sout,
smaak gee, bederf teewerk.
Menslike lig wat in die donker skyn.
Die koninkryk van God kom verhoudingsmatig.
Dit gebeur deur aanhoudende dade van omgee, gebede,
woorde van opbou, en daarwees vir ander.
Dan is ons magneties en liefdevol in die wêreld aanwesig.
So trek ons mense na die Here toe. So werk ons aktief teen sonde.
Dan is dit nie maar net ongehoorsaamheid aan Bybeltekste nie.
Dan werk die Heilige Gees kragtig in ons!

Ernest