Ons kom nuwe koppe kort.
Ons sien met ons kop, nie met ons oë nie.
Al wat ons oë doen is om ligimpulse,
deur ons oogsenuwee na ons brein te dra.
Maar dit is ons brein wat sin maak,
van dit wat gedurig in die vorm van impulse daar aankom.
Die visuele area in ons brein interpreteer hierdie inligting.
Tog sê ons: “Ons moet nuwe oë kry.”
Sonder “nuwe oë”, wat die Here ons gee,
lyk die wêreld steeds dieselfde.
Marcel Proust sê:
“The real voyage of discovery lies not in seeking new landscapes,
but in seeing with new eyes.”
Ongelukkig sien baie van ons sonder om te sien. Ons is siende blind.
Ons sien nie wat die Here wil hê ons moet sien nie.
Die Heilige Gees moet ons leer om reg te sien.
Indien ons Hom nie toelaat om dit te doen nie, bly alles donker.
Matteus 6:22:
“Die lamp van die liggaam is die oog.
As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê.”
Ons oog moet nie vasgevang word deur dinge
wat nie tot eer van die Here is nie.
Verkeerde kyke is dodelik en verlam en vergiftig ons.
Ons moet ons oë elke dag vir die Here gee.
Dan sal ons raaksien wat die Here wil hê ons moet raaksien.
Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons blik te verskuif.
Het Dawid dit maar gedoen in 2 Samuel 11…..
toe hy vir Batseba gestaan en kyk het waar sy bad.
Dan sou sy lewe nie in daardie skrikwekkende sonde-spiraal
beland het waarin hy lank vasgevang was nie.
Vra vandag vir die Here om jou te help,
om raak te sien wat Hy wil hê jy moet sien.
Vra die Heilige Gees om jou blik te verskuif,
weg van dit wat nie tot eer van die Here is nie.
Vra die Gees om jou oë in te stel op dit wat God verheerlik.
En wees dan gehoorsaam aan die leiding van die Heilige Gees!
Ernest