Paulus sê in Romeine 12:1:
“…Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
Dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.”
Jesus se offer aan die kruis het alle ander offers uitgevee.
Geen enkele offer sal ooit weer nodig wees om
die pad na God te probeer herstel nie.
Geen offer kon of sal dit regkry nie,
behalwe die offer van Jesus wat dit genoegsaam kom doen het.
Die kruis van Jesus troef alle godsdienstige rituele,
en seremonies, en offers wat poog om God te bevredig.
Maar beteken Jesus se offer dat ons nou kan terugsit,
en arms vou, en wag vir die hemel?
Romeine 12:1 sê duidelik ons enigste reaksie op God se genade in Christus,
is om ons eie lewens as léwende offers vir Hom te gee.
Ons word nou self voltydse offers met ons hele lewe!
Ons wy ons lewe uit dank aan die Here.
Ons gee onsself weg as lewende offers, vir God se wil!
Daarom sê vers 2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Wanneer ons onsself as lewende offers gee,
sal ons lewens noemenswaardig verander,
onder leiding van die Heilige Gees.
Ernest