God se wil glip nie ongesiens by vandag verby nie.
Vandag is nie ‘n onbelangrike stukkie tyd in ‘n groot tyd in die heelal nie.
Vandag, en elke dag, is regtig die dag van groot dinge vir die Here.
Ons is nie heeltyd op pad na ‘n groter môre nie.
Vandag moet gekoester word, want daar sal net een dag soos vandag wees.
Vir altyd sal hierdie dag onherhaalbaar wees.
Vandag is daardie dag wat die Here gemaak het,
waaroor ons moet jubel en bly wees.
Ek moet vandag uitkoop, dit met die regte inhoud vul, dit geniet en beleef.

2 Korintiërs 6:2 beklemtoon hoe belangrik hierdie dag is:
“Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding het Ek jou gehelp.
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”
Om God se wil uit te leef is dit nié “môre is nog ‘n dag” nie.

Tyd is bitter skaars en boonop is ons programme oorvol.
Hoewel tyd een van ons kosbaarste besittings is, is dit altyd te kort.
Vandag is presies die regte dag om weg te gee aan die Here.
Nie eers môre, wat “nog ‘n dag” is nie.
Moenie vandag op jou selfsugtige behoeftes vermors nie.
Kies hier en nou om gehoorsaam binne God se wil te leef.
Dit is lewensnoodsaaklik,
om jou eie dagboek ondergeskik te maak aan God se wil.
Vandag is die dag. Nie eers môre nie.
Los die verlede agter, en kom uit môre terug na vandag toe.
Vandag is gelaai met asemrowende Goddelike potensiaal.
Dit is die Here se dag, en daarom is dit die regte plek om vandag te wees.

Ernest