Oorvol dagboeke. Chaotiese lewens. Rondskarrel van vroeg tot laat.
Gejaagde en rustelose harte. Die storie van ons lewens.
En ons leef nie net bymekaar verby nie, maar ook verby God!
Ons is altyd op pad iewers heen en altyd te besig.
Hier en nou is altyd half ónbelangriker as waarheen ons op pad is.
Ons werk is nooit afgehandel nie, en ons kom nie tot rus nie.
Nog iets om te doen, nog ‘n e-pos, nog ‘n oproep, nog….
Wanneer ons deeglik vooruitbeplande program onderbreek word,
stress ons nóg meer! Die onverwagse is soos olie op die vuur.

Ons wil ons veral nie vasloop in mense vir wie ons nie tyd ingeruim het nie.
Mike Erre skryf in een van sy boeke:
“I believe it is Henry Nouwen who said:
“I used to hate interruptions to my ministry,
until I understood that interruptions were my ministry.”

Dan ruk Psalm 127:2 ons ook ‘n bietjie tot stilstand:
“Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap,
om met moeite ‘n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.”

God is juis ook aan die werk in onbeplande oomblikke in my lewe.
Hy werk nie net wanneer ek dink Hy is aan die werk nie.
Of wanneer ék beskikbaar en gehoorsaam is nie.
God werk die meeste van die tyd ten spyte van myself.
Daarom moet ons leer om ook ons vol dagprogram aan die Here te gee.
Nie net om te seën wat óns beplan en wil doen nie.
Maar veral ook om daarmee te maak wat Hý wil.
Ons sukses lê nie net daarin om goed georden te wees nie.
God kan ons verras deur onverwagse situasies, mense, en omstandighede.
Sy wil kan heeltemal onverwags in ons lewe ontvou.
Waag dit. Want dit vra waagmoed,
om jou program aan die Here weg te gee.

Ernest