Dit is menslik dat ons onsself met ander mense vergelyk.
Maar dit kan jou aan die een kant minderwaardig laat voel,
of aan die ander kant hoogmoedig maak.

Jy is waardevol vir die Here. Dít is jou identiteit!
Ons dink wat ons kry, waar ons bly,
en waarmee ons ry, bepaal ons identiteit.
Selfs nie jou lewensmaat, kinders of beroep gee jou identiteit nie.
Jy kan dit alles verloor in ‘n oogwink.
Jy moet jou identiteit vind in dinge wat ewig is.
Jy is oneindig baie werd,
want jy is teen ‘n oneindige hoë prys vrygekoop.
Jou identiteit lê in hoe waardevol jy vir die Here is.
En Hy het die hoogste prys vir jou betaal.
Verder sê die Woord jy is uniek. Daar is niemand soos jy nie.

Jy is ook vry om jouself te wees in die Here.
Jy het ‘n unieke lewe van die Here ontvang,
met jou talente, gawes, familie, vriende, en ook jou tekortkominge.
Dit pas alles in die unieke plan wat God met jou lewe het.
Dit is ‘n plan wat niemand anders kan uitleef,
soos God dit vir joú bedoel het nie!
Daarom gaan dien jy die Here uniek binne die liggaam van Christus,
soos God dit vir jou bedoel.

Jy is spesiaal gemaak vir jou spesifieke doel.
Samuel moes die nuwe koning van Israel gaan salf.
Hy soek toe die man van statuur, met lengte en goeie voorkoms.
Maar Samuel moet by die Here hoor dat wanneer Hý iemand roep,
is menslike standaarde nie die belangrike nie.
En soos Dawid word ons ook toegerus en verander, en gevorm,
vir die spesifieke taak wat die Here vir ons het.

Ons vergeet maklik wie ons is.
Jy is ‘n kind van die lewende God!
Jy is na sy beeld geskep.
Volmaak vir die unieke doel wat Hy met jou het.
Jy dra sy DNS in jou roeping.
Besef vandag hoe uniek en spesiaal jy vir die Here is.

Psalm 139:13-14 sê van jou wat die Here met jou doen:
“U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
Ek wil U loof want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het vervul my met verwondering.”
En dan sê vers 17 nog hierdie wonderlike woorde ook vir jou:
“Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!”
Gaan wees net jouself, in die Here, vir die Here!

Ernest