Dit is goed en normaal om positief trots te wees op prestasie.
Jou kind presteer en jy is trots.
Of jyself maak ‘n sukses deur harde werk, en jy is trots.
Dit kom nie maklik nie, en jy kan trots wees,
op die dissipline en deursettingsvermoë.
Jou hart mag maar swel van trots.
Wanneer ‘n trotse hart egter hoogmoedig word, moet jy versigtig wees.
Die Woord sê daaroor in 1 Petrus 5:5:
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
Ons moet die tekens van ‘n hoogmoedige hart raaksien.
Soos om te skinder oor ander mense, en wat hulle nié bereik het nie.
Om negatief oor ander te praat en maklik te kritiseer.
Of jy skryf jou sukses net aan jouself toe.
Jy gee nie erkenning aan iemand anders wat jou gehelp het nie.
Hoogmoed is selfsugtig.
Hoogmoed praat meerderwaardig oor prestasies.
Hoogmoed kan mense minderwaardig laat voel.
Doen en sê alles met groot nederigheid en dankbaarheid.
Calvyn het gesê ‘n ryk man wat met hoogmoed na ‘n bedelaar kyk,
en die bedelaar wat met afguns na die ryk man kyk,
doen presies dieselfde sonde.
Hoogmoed en afguns voed mekaar.
Daarom moet ons die motiewe van ons hart goed ondersoek,
wanneer ons praat, of wanneer ons na ander luister.
Deel jou prestasies met eerlikheid en integriteit.
Vertel dit vir die regte persoon, op die regte manier, op die regte tyd.
Moenie altyd probeer om ‘n ander se “storie van sukses” te oortref nie.
Toets jou woorde en bedoelings voor jy praat.
Luister met opregtheid wanneer ander praat oor waarop hulle trots is.
Nederigheid is deurslaggewend vir ‘n goeie verhouding met jou medemens.
Hoe groter die mag wat jy oor jou medemens kan uitoefen,
hoe onsigbaarder en onhoorbaarder moet dit wees.
Ernest