Aanvaar dat die lewe nie perfek gaan wees nie.
Aanvaar dat die lewe nie regverdig is nie.
As jy vir iemand ‘n uiters kosbare geskenk gee,
en hulle is onvergenoegd daarmee, hoe gaan dit jou laat voel?
Jesus gee sy lewe. Dit is die kosbaarste wat enige iemand jou kan gee.
En Hy gee dit vir jóú! En daarmee die lewe in oorvloed!
Dit is meer as genoeg rede om die lewe te kies.
Ons kies so dikwels om te kla, eerder as om te lewe.
Ons sien alles wat fout is, en dit dreineer lewe uit ons uit.
Ons glo ons kan nie voluit lewe met alles wat fout is nie,
en ons leef oppervlakkig.
Ons stel die lewe uit!
Om tevrede te wees te midde van jou omstandighede is ‘n goddelike ding.
Om vergenoegd te leef vra dankbaarheid vir al die seëninge in jou lewe.
Wanneer jy deur die Heilige Gees lewend gemaak word, begin jy regtig lewe!
Die Bybel sê jy sal ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees kry.
Jou kliphart sal vervang word deur ‘n hart van vlees. Esegiël 36:26.
Ons verstaan nie altyd waarom daar sekere pyn en lyding is nie.
Maar ons kan beslis weet:
Ons word deur die Here gedra deur dit alles.
Hy hou ons staande. Hy wil ‘n nuwe droom in jou hart plant.
Hy wil jou ‘n nuwe passie vir Hom en vir die lewe gee.
Die profeet Esegiël kry ‘n visioen van bene wat kurkdroog is en nuwe lewe kry.
Hoewel daar geen kans vir lewe was nie, kom God en blaas sy Gees in die bene.
Soos God daardie dooie bene lewend gemaak het, wil Hy jou ook nuwe lewe gee.
Geen doodsheid is vir God te groot om nuwe lewe te skenk nie.
Geen skande of sonde is te groot om lewe wat God wil gee uit te hou nie.
As jy ‘n kind van verdrinking gered het, sal jy wil hê daardie kind moet nou voluit leef!
Jy sal nie wil hê hy moet elke dag langs die swembad gaan sit en tob oor hy byna verdrink het nie.
Jy sal nie wil hê hy moet sy lewe so vermors nie.
Daarom moet jy ook opstaan en die lewe kies.
Kies die lewe!
Ernest