Hoe kragtig is gebed?
Die vraag is eerder hoe kragtig is God?... wat deur gebed werk.
En daaroor hoef ons nie eers te redeneer nie. God is Almagtig!
Gebed is dus meer kragtig as wat ons dink.
Wanneer ons gebede “nie werk nie”, soek ons dadelik ‘n rede hoekom nie?
Dan sê ons selfs maklik: “Dit is nie God se wil nie.”
Hoe weet ek wat God se wil is…?
Dit is belangrik om te verstaan wat God se wil in gebed beteken.
Sy wil gaan nie oor “waar” jy is nie.
Met ander woorde, of jy “binne” of “buite” sy wil is nie.
Sy wil gaan hoofsaaklik oor jou lewe,
om Christus vir die wêreld te wys, waar jy ookal is.
Romeine 12:1-2 verduidelik God se wil baie mooi.
Die goeie, aanneemlike en volmaakte wil van God.
Gee jouself as lewende en heilige offer wat vir die Here aanneemlik is.
Laat die Heilige Gees jou verander!
Dan sal jy kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed, en aanneemlik, en volmaak is.
Alles gaan daaroor om Christus in die wêreld uit te leef, vir die wêreld.
As jy ‘n bietjie van Christus wys, is jy in sy goeie wil.
Kan jy alles van Christus wys, is jy in sy volmaakte wil.
Waarvoor kan of moet ek dan bid?
Die vraag is nie “kan ek hiervoor of daarvoor bid” nie?
Die vraag is wat ek kan doen om Christus in die situasie te leef?
Dit word mooi vir ons geleer in Markus 11:22-24:
“Julle moet geloof in God hê. Dit verseker Ek julle:
Elkeen wat vir hierdie berg sê: “Lig jou op en val in die see”,
en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê,
gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle:
Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het,
en dit sal vir julle so wees.” Lees dit wéér!
Niks in dit wat Jesus oor gebed vir ons leer,
gaan oor wat jy mag vra of nie mag vra nie.
Hy sê jy mag vir alles vra.
Maar jy moet geloof in God hê daarvoor.
Omdat jy God se kind is, ken Hy jou stem.
Hý gee jou die vrymoedigheid om vir enige iets te vra.
Die vertrekpunt is dat dit God se wil is,
om Christus daarin, in dit wat jy vra, deur jou te wys.
Ernest