Hoop jy iets gaan gebeur as jy bid,
of weet jy beslis iets gaan gebeur omdat jy daarvoor vra?
Het mense soos Petrus en Johannes geweet iets gaan gebeur as hulle bid?
Hulle was glad nie so “professioneel” in hul verhouding met God soos ons vandag nie.
Selfs nadat die dissipels vir Jesus gevra het hoe om te bid,
lees ons nie een keer daarna dat hulle die “Ons Vader” opsê nie.
Jesus leer hulle met die gebed ‘n lewenshouding van saam met God leef.
Wat ons wel lees is Petrus wat sê: “Wat ek het, gee ek vir jou.”
En daarna sien hy hoe ‘n man, wat jare verlam was, opstaan en loop!

Ons moet ophou wonder oor hoe dit werk, en by kinders gaan leer.
Wanneer ‘n kind vir sy pa vra vir roomys, wonder hy nie of sy pa gaan nee sê nie.
Al wat hy weet, is dat wanneer hy ‘n roomys wil hê, hy sy pa moet vra.
Wanneer ons gereeld wonderwerke wil beleef soos Petrus, Johannes en Paulus,
dan moet jy in jou hart weet dat jy God se kind is. En jy vra Hom!
Hy is nie die een of ander misterieuse wese wat jy met ‘n gelukskoot raakbid nie!
Hy is jou “Abba-Vader”, en Hy is altyd daar!

Hy wil jou die beste gee. Nie die gemaklikste of lekkerste nie. Die beste!
Hy is meer lief vir jou as wat jy ooit sal besef.
Hy wil egter ook die alledaagse in jou lewe, wat nie reg is nie,
verander, sodat dit by sy liefde vir jou pas.
Kinders verstaan nie leerstellings, en teologie, en strategië, en resepte nie.
Met die vrymoedigheid van ‘n kind het Petrus gesê:
“Wat ek het, gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret,
staan op en loop.”
Wanneer jy van God vra, doen jy dit sonder om die moontlikheid of implikasie
van enige ander antwoord as “ja” te oorweeg.

Gebed is nie ‘n geleentheid nie. Soos stiltetyd of erediens nie.
Gebed is om in liefde saam met die Here te loop.
Dit is om in gebed te begin as jy in die oggend jou oë oopmaak,
en in die aand “Amen” te sê as jy jou kop op die kussing neerlê.

Jou dag is gevul met hoop, en in God se Woord geanker. Dit is gebed.
Gebed verander jóú deurlopend, en dit is intiem,
omdat dit die taal van jou hart met God is. Oral waar jy leef.
Dit verdiep jou verhouding met God.
Daarom, as jy net op jou knieë bid, bid jy hopeloos te min….

Ernest