Hoekom is ons so behep met grootte?
Die Amerikaners se “bigger is better”.
Groot prestasies, inkomste, geboue, motors, spiere….selfs kerke.
Dan kom ons in die denke dat ons ook “groot dinge vir die Here” wil doen.
Die meeste voorbeelde wat die Here vir die kerk gebruik, het met kleinheid te make.
Hoekom gebruik ons Johannes 14:12 om ons grootheidswaan te voed?
Hierdie teks is juis nié bedoel om ‘n “groter is beter” teks te wees nie!
“Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen;
en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.”
Hierdie teks staan in die konteks daarvan,
dat Jesus die een is wat God se heerlikheid kom sigbaar maak.
Jesus verrig agt tekens wat God, en sy eie Goddelike almag, beklemtoon.
Wanneer Jesus dan uiteindelik hier sê ons gaan dieselfde dinge as Hy doen,
en selfs nog meer, bedoel Hy dat ons op nuwe maniere gaan leef,
sodat ons meer van Gód se heerlikheid en eer gaan weerkaats!
Daar gaan dus nóg meer van ons ónsigbaar raak, en méér van God sigbaar wees!
Ons word dus lewende bewyse van Jesus Christus se voortgaande teenwoordigheid,
daar waar ons leef in die wêreld. Ons is nie die kragvertonings nie.
Die aandag is nie op ons nie, maar juis nog meer op God!
Hy doen, deur ons, die dinge waarin Hy homself verheerlik.
Ons is net die lewende weerkaatsers van die dade van God!
Ernest