Om “groot dinge” vir die Here te doen, is nie ‘n doel opsigself nie.
Dit is inderdaad nie ‘n Bybelse idee nie.
Ons het dit reeds gesien in Johannes 14:12-14.
Die groot dinge waarvan die Johannes teks praat,
is die dinge wat God grootmaak, en nie ons groot dade nie.
Wanneer het ons immers indrukwekkende geloofsdade?
Alle goeie dade word tog deur God self in en deur ons gedoen.
Ons kry nie van Jesus die opdrag om “groot te gaan” nie.
Ons wat in Hom glo, moet eenvoudig in sy voetspore leef.
Dan sal ons, net soos Hy, God-verheerlikende dinge doen.

‘n Ander teks wat gebruik word, om mense aan te moedig,
om “groot te gaan” vir God, is Jesus se gelykenis van die mosterdsaad.
Matteus 13:32:
“Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het,
is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom,
sodat die voëls in sy takke kom nesmaak”.
Dit begin klein en eindig groot.
Maar die Here gee nie hier ‘n opdrag om “groot te gaan” nie.
Om groot te gaan is nie ‘n doel opsigself nie.
Jesus sê eerder hier dat God sal sorg dat klein dingetjies,
wat in sy Naam gebeur, in die koninkryk van God groot impak sal maak.
Dit gebeur nie deur ons eie toedoen of vermoeë nie.
Dit is ‘n Goddelike ironie en ingrype tegelyk,
dat ons klein mosterdsaad dade, sulke impak kan hê,
want op ons eie kan ons nie veel vermag nie.
Tog het alle klein dade, wat gewone mense in God se Naam verrig,
groot impak in die wêreld.
God laat dit gebeur!

Ernest