Johannes 18:17:
“Die meisie sê toe vir Petrus:
“Is jy nie ook een van die dissipels van hierdie man nie?”
“Ek is nie!”, antwoord Petrus.”
Vers 26: “Een van die slawe, vra toe:
“Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?”
Vers 27: “Petrus het dit weer ‘n keer heftig ontken,
en onmiddelik het die haan gekraai.”

Elke keer as ons nalaat om op te staan vir Jesus, en die wil van God,
verloën ons ook die Here, en dan kraai die haan ook vir ons.
Fred Craddock vertel hoe hy dit konkreet ervaar het.
Hy het in die Suide van Amerika gereis,
wat bekend is daarvoor dat daar meer rassisme daar voorkom,
as in die res van Amerika.
Hy het vroegoggend by ‘n restaurant gestop vir ontbyt.
‘n Swartman het ingestap en koffie bestel.
Die bestuurder het hom onbeskof en neerhalend behandel.
Voor al die ander mense….
Die man het vining sy koffie gedrink en weer gegaan.
Craddock vertel hoe hy alles fyn dopgehou het.
Binne in hom het daar opstand gekom,
en hy het gedink om die bestuurder aan te spreek.
Veral in die lig van ‘n Bybelteks wat teen die muur gehang het!
Maar Craddock het stilgebly.
Hy vertel toe hy uitgeloop het, en by sy motor gekom het,
het hy ‘n haan, baie duidelik, digby hom hoor kraai….

Ons ken ook daardie belewenis.
So ‘n verslae siek gevoel wat oor jou kom,
omdat jy stilbly, oor jy “bang” is om vir die Here op te staan.
Maar, soos met Petrus, ken die Here ons.
Hy het Petrus herstel en Hy bou op hom.
Die Here sien onder ons mislukkings die ware jý.
Die een wat wil bly groei in Hom,
en sterker en sterker vir Hom opstaan!
Hy het ons lief ten spyte van ons mislukkings.
Hy ken ons potensiaal in Hom.
Hy neem ons tree vir tree daarheen, deur sy Gees.
Staan op vir die Here.

Ernest