Johannes 19:28:
“Hierna het Jesus gesê: “Ek is dors.”
Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptak gesit,
en dit teen sy mond gehou.
Vers 30: “Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê:
“Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val,
en sy asem uitgeblaas.”
Die Nuwe Vertaling sê die bekende woorde: “Dit is volbring”.
Die Griekse woord “tetelestai” is ‘n handelsterm wat beteken:
Die skuld is ten volle betaal. Dit is afgehandel, volbring.

Bobby Fischer was een van die beste skaakspelers,
wat die wêreld opgelewer het.
Hy het graag kunsmuseums besoek.
Hy het eendag lank voor ‘n skildery gestaan met die titel “Skaakmat”.
Dit was ‘n skildery van die duiwel wat teen ‘n jongman skaak speel.
Die duiwel het ‘n duiwelse glimlag wanneer hy sy skuif maak.
Die jongman dink hy is skaakmat en slaan uit van die sweet.
Fisher het ‘n skaakbord geneem en dit presies uitgepak soos op die skildery.
Na ‘n paar oomblikke het hy uitgeroep: “Jongman, ek wens jy kon my hoor!
Want daar is nog een skuif op die bord oor, en dit is jóú skuif,
en dan is dit skaakmat vir jou opponent! Die oorwinning skuif is joune!”

Die lewe kan baie keer vir ons “skaak” sê, maar nie skaakmat nie.
En die rede is Jesus se oorwinnings woorde aan die kruis:
“Dit is nou afgehandel.”
“Dit is volbring.”
“Die skuld is ten volle betaal.”

As Jesus dan alles afgehandel het, wat moet ons doen?
Ons moet juig in vreugde!
Tereg staan daar ‘n uitroepteken na die woorde van Jesus!
“Dit is nou afgehandel!”
Geloof is om te juig oor hierdie woorde van Jesus.
En om nou soos Jesus te gaan leef, is ons uitroepteken!!

Ernest