“Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle.
Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande,
en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar glo.
Tomas het vir Jesus gesê: “My Here en my God!” - Johannes 20:26-28.
Jesus verskyn nie aan Tomas, soos Hy met Petrus gemaak het nie.
Hy wil nie Tomas versterk in sy eenkant wees nie.
Tomas twyfel juis wanneer hy hom losmaak van die ander dissipels.
Maar tog is Jesus se woorde aan Tomas merkwaardig.
Tomas besef deur hierdie woorde van Jesus,
dat Jesus hom gesien en gehoor het!
Die Here vertel presies aan Tomas wat Hy vir die ander dissipels gesê het.
In Duitsland is ‘n beeld van Tomas wat sit en twyfel.
En, onsigbaar vir Tomas, staan Jesus met sy seënende hande oor hom uitgestrek.
Tomas twyfel aan Jesus, maar Jesus twyfel nie aan Tomas nie.
Tomas besef dit is die opgestane Jesus wat met hom praat.
Daarom val hy voor Hom neer met die belydenis:
“My Here en my God.”
Niemand het nog ooit vir Jesus so aangespreek nie.
Twyfel bring hom terug na groter geloof toe!
So werk die Here met die wat wíl glo, se twyfel.
Ons was ook nie daar toe Jesus aan sy dissipels verskyn het nie.
En tog sê Jesus juis dit vir ons:
“Gelukkig is hulle wat nie sien nie, maar tog tot geloof kom.”
Ons het die Here se Woord, en ook hierdie woord van die Here, uit die Woord!
Die Here laat ons sterker in geloof aan die ander kant van twyfel uitkom!
Ernest