Johannes 1:1: “ In die begin was die Woord daar,
en die Woord was by God, en die Woord was self God.”
‘n Onbekende volgeling van Plato het oor hierdie eerste
vyf verse van die Johannes Evangelie gesê:
“Hierdie woorde verdien om in soliede goud geset te word.”
Francis Junius vertel dat hy totaal onverskillig geleef het,
totdat hy hierdie woorde gelees het.
Dit het hom sy lewe totaal laat verander.
En so miljoene deur die eeue!
Die Evangelie van Johannes is bedoel om die Here Jesus
aan ons bekend te stel soos Hy werklik is.
Die hoofdoel is dat ons in die Here Jesus kan glo,
en daardeur die ware lewe kan kry.
Johannes 20:31 sê dit :
“Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo
dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo,
in sy Naam die lewe kan hê.”
Johannes beklemtoon nou met Johannes 1:1
dat Jesus al voor die skepping daar was, en dat Hy God is!
Jesus is self ook God!
Vers 3 beklemtoon dat die oneindige heelal deur Hom ontstaan het:
“Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan,
het sonder Hom tot stand gekom nie.”
Vers 4 beklemtoon dat Hy alle lewe gee:
“In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.”
Vers 5 sê Hy bring lig in die duisternis!
Jesus is oneindig meer as net ‘n groot profeet,
soos sommige godsdienste wil beweer.
Hy is oneindig meer as net ‘n goeie leermeester,
soos ander godsdienste wil beweer.
Hy is God met ons!
Hy is nie maar net die stigter van die Christelike godsdiens nie.
Hy is die Skepper van alles wat bestaan !
Maak jou sitplekgordel vas,
vir die ware lewe saam met Hom!!
Hy is God!
Ernest