Johannes 1:17 sê:
“God het die wet deur Moses gegee;
die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”

In die VSA het ‘n groep jongmense ‘n ondersoek gedoen,
en aan mense op straat gevra:
“Waarheen dink jy sal jy gaan nadat jy gesterf het?”
Feitlik almal het gereken dat hulle hemel toe sal gaan.
Selfs die wat verklaar het dat hulle ateïste is…!
Toe die mense gevra word hoekom hulle so dink,
het feitlik almal gevoel dat hulle nie slegte mense is nie,
en selfs beter mense is as die meerderheid waaraan hulle kan dink!
Dit was duidelik dat hulle weinig of enige kennis het van die Ou Testament.

Die Here het vir ons die Ou Testament gegee
sodat ons kan verstaan waar ons vandaan kom,
watter pad die Here al met ons geloop het,
en hoekom dit nodig was dat Jesus Christus na die wêreld toe moes kom,
om sy lewe vir ons te offer! Daarom hierdie teks in Johannes1:17.
Ons is almal eenvoudig totaal verlore sonder die genade-ingrype van God!
Daar is geen manier hoe ons aan die heilige God se heilige norme kon voldoen nie.
Daarom begin sendelinge ook om die Ou Testament
aan onbereikte volksgroepe te vertel, sodat hulle tot sondebesef kan kom.
Eers dan is die mens gereed om na die Verlosser te soek!

Alle ander godsdienste leer ons dat ons ons redding moet verdien,
deur offers, gebede, goeie werke, en vroom handelinge.
Tog kan geeneen van die godsdienste sekerheid gee nie.
Die Bybel leer ons dat ons alleen uit genade,
deur die geloof in Jesus Christus gered word.
God doen alles!
Daarom hoef ons nie te twyfel nie,
want dit hang nie van ons pogings af nie.
Ons kan nie onsself red nie!
Daarom het Jesus in ons plek die prys van die sonde kom betaal.
En nou is selfs ons geloof in Hom ‘n genadegawe van God wat Hy ons skenk!

Efesiërs 2:8-10:
“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.
Hierdie redding kom nie uit julleself nie;
Dit is ‘n gawe van God.
Dit kom nie deur julle eie verdienste nie,
en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is:
in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy
aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Jou sekerheid lê in God se genadewerk alleen,
en daarom kan jy verseker seker wees!

Ernest