Johannes die Doper roep in Johannes 1:29 uit:
“Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
‘n Seuntjie het vir sy ma gevra hoe dit moontlik is
dat bloed ‘n mens se hart kan skoonmaak.
Bloed vlek tog klere en wasgoedseep vervaardigers spog
hoe hul produk selfs bloed kan verwyder.
Tog sê 1 Johannes 1:7-9 dat Jesus se bloed ons sonde wegwas.
Dit is nodig om die Ou Testament te lees,
om te verstaan wat Johannes die Doper hier bedoel.
Deur die eeue is offerdiere geslag,
en hul bloed moes versoening bring tussen God en mens.
In plaas daarvan dat die mens met sy lewe betaal vir sy sonde,
kon hy ‘n offerdier in sy plek laat betaal,
met die dood van die dier en die dier se bloed as daad van versoening.
Romeine sê duidelik die loon van die sonde is die dood.
By die inwyding van die tempel, in 1 Konings 8:62-63,
het Salomo 22 000 bulle en 120 000 skape geoffer!
Dit is verskriklik, dink net al die bloed!
Maar dit dui aan hoe groot die sondebesef van die mense voor God was!
Die Jode het verstaan dat sonde ‘n gruwel voor God is.
En tog was al die offers nie genoeg nie!
Hebreërs 10:4 en 11 bevestig dit.
Daarom moes Jesus as Offerlam kom om aan die kruis as offer te sterf.
Want sonder bloed is daar nie vergifnis nie, sê Hebreërs 9:22.
Johannes het geweet dat Jesus die Messias is wat kom om geoffer te word.
Daarom kon hy uitroep: “Dáár is die Lam van God,
wat die sonde van die wêreld wegneem.”
Nou sê Romeine 3:23-24:
“Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word,
sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek,
vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”
Vers 25 sê dan treffend:
“Hóm het God gegee as offer,
wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.”
Besef regtig hoe gruwel sonde vir God is….Hy haat dit!
Vers 26 is nou die vers waaruit jy moet leef!
“God oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo!”
Glo in Jesus en LEEF!
Ernest