Jesus self sê dit in Johannes 3:3:
“Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie,
kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Christenskap is nie maar net nog ‘n godsdiens tussen ander godsdienste nie.
Selfs Nikodemus, wat hoogs geleerd was in die Joodse godsdiens, moes dit ontdek.
Nikodemus was ook ‘n bietjie verward oor hierdie vreemde Jesus.
Jesus was nie bang om dinge wat verkeerd is te verander nie.
Dit laat Nikodemus in die nag na Jesus kom.
Hy wil hoor wat hierdie ongewone rabbi op die hart het, en wat hy glo.
Jesus praat dadelik reguit met Nikodemus.
Elkeen, maak nie saak wié dit is nie, ook Nikodemus,
moet opnuut gebore word!
Nikodemus het Jesus se woorde eers letterlik verstaan.
Is dit dan moontlik om van voor af, deur jou moeder heen, gebore te word?
En kan jy jou foute herstel, van voor af begin?
Jy kan nie jou verlede verander nie, maar wel jou toekoms!
Tog werk die wedergeboorte ook terug!
Al jou sondes wat jy al in die verlede gedoen het, word vergewe!
Wanneer die Here die wedergeboorte in jou laat gebeur,
verander jou hele lewe!
Ook jou ewige toekoms en bestemming verander!
2 Kor. 5:17-18:
“Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God…”
Alles verander totaal in jou hele lewe!
Wat is jou keuse?
Ernest