“Wie in die Seun glo, het die ewige lewe;
wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie,
maar die straf van God bly op hom.” – Johannes 3:36.

‘n Portugese padteken in Angola waarsku:
“Gevaar! Landmyne!”
Daar is steeds na die oorlog landmyne wat nie opgespoor is nie!
Indien jy die tekens ignoreer, en met jou voertuig in die veld rondry,
wié se skuld sal dit wees as die voertuig aan stukke geskiet word?
Verseker sal dit nie die skuld wees van die man
wat die gevaarteken opgesit het nie!

Die Ou Testament dra baie sterk die boodskap dat God heilig is!
Hy haat alle sonde. Wanneer jy in die gevaarsone van die sonde inbeweeg,
beweeg jy ook in die gevaarsone van die toorn van God.
God is getrou. Hy verander nie.
Net so lief as wat Hy ons het,
net so heilig en regverdig is Hy.
Hy waarsku oor die gevaarsone van die sonde,
maar Hy dui ook die veilige pad deur die mynveld aan om dit te oorwin.
Die enigste weg is Jesus Christus!
Wanneer ons ons volle vertroue vir ons hele lewe op Jesus plaas,
het ons nóú reeds die ewige lewe.
Ons hoef nooit daaraan te twyfel nie.
Neem die Here op sy woord vir Johannes 3:36!
Die teks sê egter ook: Weier ons om te glo,
omdat ons ongehoorsaam wil bly,
sal ons die onvermydelike gevolge dra.
God tree nie teen sy eie Woord in op nie.

Johannes wil dit vir ons duidelik maak dat ons sónder Jesus in groot gevaar is.
Gevaar wat verseker lei tot die ewige dood…
Saam met Hom is ons veilig en gered uit die mynveld van die sonde.

Kies Hom, en kies so om te lewe!

Ernest