Daar is ‘n mooi Engelse uitdrukking wat sê:
“To let go, and to let God.”
Waarom kan ons dit nie regkry om die Here te vertrou
met elke tree wat ons in die lewe gee nie.

Indien iemand wat jou liefhet jou blinddoek,
en dan sê hulle het ‘n verrassing vir jou,
dan is jy opgewonde daaroor omdat jy die persoon ten volle vertrou.
Jy laat toe dat die persoon jou na die verrassing toe lei.
Vir ‘n verliefde paartjie mag dit ‘n verloofring wees.
Of vir getroudes mag dit ‘n man wees wat vir sy vrou ‘n nuwe motor gekoop het.
Die belangrike is dat jy wat geblinddoek is,
die persoon vertrou om jou tree vir tree na die verrassing toe te lei.
Jy glo die persoon as gesê word: “Pasop vir die trappie, loop bietjie na links…..”
En dan, as die persoon jou tot stilstand bring,
wag jy met groot afwagting en vertroue dat die blinddoek afgehaal word.

Hoekom vertrou ons nie vir God ook so onvoorwaardelik nie?
Regtig met elke tree wat ons in die lewe moet gee.
En hoekom het ons nie saam met Hom so ‘n groot verwagting nie?
God belowe keer op keer dat Hy vir ons die goeie beplan.
Jeremia 29:11-13 sê:
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspeod nie;
Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!
Dan sal julle my aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.
Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken, as julle met julle hele hart daarna vra.”
Hy wil ons tree vir tree lei, en wil hê dat ons Hom volkome met elke tree sal vertrou!

Só, waarom wil of kan ons die Here nie onvoorwaardelik vertrou nie?
Hy weet presies wat Hy vir ons beplan. Hy lei ons aan die hand daarheen.
Dit is voorspoed en nie teenspoed nie. Ons redding en ons lewe in en saam met Hom!
Net soos iemand wat geblinddoek is,
kan ons ook in die lewe nie elke volgende tree sien nie.
Maar God is reeds daar. Hy kan ons elke tree lei. En Hy wíl!
Die teksvers sê: “Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”
God wil ons na opwindende verrassings lei in die lewe saam met Hom.

By wyse van spreke kan ons sê:
Laat toe dat God jou elke dag blinddoek.
Laat toe dat Hy jou elke tree van jou lewenspad lei.
Vertrou Hom dan ook onvoorwaardelik vir elke tree!
Die teksvers sê; dan sal jy die Here aanroep en tot Hom bid.
Hy sal jou gebede verhoor, want jy sal vra na die wil van die Here,
en jy sal sy wil ken, omdat jy met jou hele hart daarna vra!

Ernest