Ons ken die gebeure van die vyf brode en twee vissies so goed.
‘n Skare mense het na Jesus toe gekom.
Hy het hulle gesien en vir Filippus gevra waar hulle
brood kan gaan koop sodat die mense kan eet.
Johannes 6:7-9:
“Filippus het Hom geantwoord: “Dit sal ‘n klein fortuin kos,
om aan elkeen van hulle net ‘n stukkie kos te gee.”
Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus,
sê vir Jesus: “Hier is ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het,
maar wat is dit vir só baie mense?”

Die dissipels sit met ‘n skaarste-mentaliteit. Te min om iets mee te doen…
Mense met ‘n skaarste-mentaliteit dink altyd wen-verloor.
Teenoor dit staan die oorvloed mentaliteit.
Mense met ‘n oorvloed mentaliteit dink altyd wen-wen.
Filippus se antwoord is reg, maar sy probleem is ‘n skaarste mentaliteit.
Hy dink nie aan die moontlikheid van wat Jesus kan doen nie.
Om uit min ‘n oorvloed te skep. Selfs iets uit niks!
Andreas kom met ‘n ander oplossing.
Hier is ten minste vyf brode en twee vissies. Maar dit is ook te min!

Die vraag wat ‘n oorvloed-mentaliteit sal vra is: “Wat kan gedoen word?”
Die vraag van ‘n skaarste-mentaliteit is: “Wat kan nie gedoen word nie?”
Filippense 4:13 sê tog: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Daarom kan ons lewe met ‘n oorvloed-mentaliteit!

‘n Oorvloed-mentaliteit laat ons fokus verskuif,
van die probleem na die Kragbron.
Dit maak nou van die probleem ‘n uitdaging.
Dit laat ons soek vir maniere om te slaag,
nie vir verskonings om te misluk, of om dit nie te doen nie.
Die bekende komediant, John Belushi, het gesê:
“Nothing is impossible for the person who will not listen to reason.”
Daar is ‘n groot stuk waarheid hierin.
Dikwels wil ons met ons logika ons geloof dikteer.
En, met eerbied gesê, wat vir ons onmoontlik is,
is dan ook vir God onmoontlik….
Ons sal dit nooit in ‘n redenasie sê nie,
nooit nie, maar ons geloof sê dit.

Geloof werk nie direk eweredig met gesonde verstand nie.
Daarom moet ons leef met ‘n oorvloed-mentaliteit.
Vertrou op God. Hy kan!

Ernest