Johannes 6 skryf weer oor brood. Hierdie is merkwaardige brood!
Die dissipels het vir Jesus gesê Hy moet altyd vir hulle
van die ware brood gee wat die Vader uit die hemel vir hulle gee.
Dit is brood waarvan Jesus hulle in Johannes 6:32 en 33 vertel.
Dan sê hulle in vers 34 vir Jesus: “Meneer gee altyd vir ons van hierdie brood.”
In vers 35 sê Jesus vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom,
sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie.”

Jy kan nooit jou lewenshonger stil sonder Jesus nie.
Jou lewe bly leeg, al is jou bord vol kos.
Want Jesus is die ware Brood van die lewe wat jou versadig.
En dit moet jy nou gaan uitdeel.
Oorvloed-mentaliteit beteken om alles met ander te deel.
Jy leef met ‘n oop hand, en sagte oog en hart, net soos die Here Jesus.

Eendag het ‘n vrou koffie by ‘n koffiewinkel gesit en drink,
nadat sy ‘n pakkie koekies daar gekoop het.
Die plek was stampvol en ‘n man het by haar tafel gesit.
Sy het ingedagte ‘n tydskrif uitgehaal en begin lees,
terwyl sy elke nou en dan ‘n slukkie koffie neem.
Na ‘n ruk het sy haar hand uitgesteek en ingedagte ‘n koekie geneem.
Sy sien toe die man doen dieselfde, terwyl hy ook sit en lees in ‘n koerant.
Dit het haar verras, maar sy het geglimlag en niks gesê nie.
En elke keer as sy ‘n koekie geneem het, het die man ook!
Sy was geïrriteerd en het gedink hy behoort sy eie koekies te koop.
Totdat net een koekie oorgebly het. Voor sy iets kon doen, het hy geglimlag,
die koekie in twee gebreek, een helfte vir haar gegee,
en die ander helfte self geëet. Sy kon dit nie glo nie….
Hy het later opgestaan, vriendelik gegroet en vertrek.
Sy het gedink sy sal by die huis vir haar man vertel van die man en sy arrogansie.
Toe sy haar sak oopmaak, en haar tydskrif in die sak sit om te vertrek,
sien sy dat haar pak koekies nog onoopgemaak in haar sak wag, om geëet te word!
Sy het besef hoe ‘n oop hand, en sagte oog en hart, die man oorkant haar gehad het…

So moet die lewe saam met die Here ons verander.
Om die Brood van die lewe met ‘n oop hand,
en sagte oog en hart, met enige mens te deel.
Die Brood van die lewe is die Persoon, Jesus, wat jou lewe verander,
en hoe jy na die lewe kyk, en hoe jy na ander mense kyk, en hoe jy hulle behandel.
Jy kry ‘n oop hart, en sagte oog en hart, en deel met ander.
Dit is die lewe met oorvloed-mentaliteit.

Ernest