In Kolossense 2:6-7 skryf Paulus:
“Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar.
Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken.
Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees,
soos die band tussen ‘n boom en die aarde waaruit dit groei.
Soos ‘n huis wat op ‘n sterk fondament gebou word,
moet julle julle lewe op Jesus bou.
Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is.
Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer.”

Gelowiges is gewortel in Christus, sê hierdie verse,
en soos ‘n huis wat op vaste fondament gebou is.
Gelowiges is gewortel in Christus – die bron van hulle lewe –
en hulle lewe is gebou op Christus se krag.

Belangrik is ook die woorde oor getuienis en oortuiging:
“Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken.”
Abraham Lincoln, een van die wêreld se beste leiers,
het gereeld gebid, Bybel gelees, eredienste bygewoon,
en hoë morele beginsels gehad.
Tog was hy baie huiwerig om by ‘n gemeente aan te sluit,
en verbind te word met die kerk van Jesus Christus.
Daar was gelowiges wat, as gevolg hiervan,
altyd getwyfel het oor Lincoln se oortuigings…ten regte of ten onregte…
Toe die geskiedenis van die Presbiteriaanse kerk in Amerika nagevors is,
het hulle in die kerkargief ‘n brief van Lincoln gekry.
Daarin het hy geskryf dat hy nou gereed was om ‘n lidmaat van die kerk te word.
Die brief was gedateer 13 April 1865.
Sy datum van belydenisaflegging sou Sondag 18 April 1865 wees.
Maar, op 14 April 1865, een dag na die brief, is hy vermoor!
Die gelowiges het bly wonder hoekom hy nie die geloofsoortuiging gehad het,
om in openbare getuienis en oortuiging,
deel van die kerk van die Here Jesus te wees nie….
Die gebeure het niks aan sy bestemming verander nie.
Maar dit het tog ‘n effek op sy getuienis gehad.

“Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken.”

Ernest