Gesinslewe is een van die grootste voorregte en seëninge van die lewe!
Efesiërs 6:1-4 sê baie belangrike dinge oor ons gesinslewe:
“ Vir die kinders wil ek die volgende sê:
as Christene moet julle na julle ouers luister.
Dit is wat God van julle vra. Die Skrif sê: “Jy moet jou pa en ma respekteer” –
kyk mooi hoe gaan hierdie gebod verder,
want dit is die eerste gebod waarin God iets beloof –
“sodat dit goed met jou sal gaan en jy ‘n lang en gelukkige lewe mag hê.”
Vir die pa’s wil ek dit sê:
moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister,
en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag.
Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad,
al moet julle soms streng optree.”
Die ouers en die kinders het verantwoordelikheid!
Kinders moet na hulle ouers luister en hulle respekteer.
Ouers moet hulle kinders so grootmaak soos die Here van hulle verwag.
Die gesin is God se oefenskool vir die lewe.
Die woord “eer” soos in “eer jou vader en jou moeder”,
beteken in Hebreeus “gewigtigheid”.
Om mense te eer beteken om mense te respekteer.
Dit beteken vir kinders die gewilligheid om te luister.
Luister na die stem van jou ouers, wat ten diepste ‘n stem van God is,
as ouers die kinders grootmaak “soos die Here van julle verwag”.
Benjamin West vertel hoe hy sy sussie, Sally, moes oppas.
Sy ma het Sally, in haar afwesigheid, in Benjamin se sorg geplaas.
Hy het verf gekry en haar portret geverf. Hy wou goed doen vir haar.
Maar dit was ‘n groot gemors.
Toe sy ma terugkom het sy niks oor die gemors gesê nie.
Sy het net die “skildery van Sally” opgetel en gesê:
“Sjoe! Dit is Sally!”, en Benjamin ‘n soen van dankbaarheid gegee.
Benjamin West sê daardie dag het sy ma se soen van hom ‘n skilder gemaak!
Ouers moet hulle kinders aanmoedig om hulle beste self te word.
En kinders moet hulle ouers respekteer.
Ernest