Paulus skryf Efesiërs 6:5-7 en 9 in ‘n tyd waarin werkers
en slawe dikwels wreed en onmenslik behandel is.
In sulke omstandighede sê Paulus nie vir hulle om te rebelleer nie.
Hulle moet as Christene leef dáár waar hulle is,
al is die omstandighede hoé moeilik.
“As julle slawe is sonder vryheid en aan iemand anders behoort,
moet julle na hierdie base van julle luister. Wat julle vir hulle doen,
moet julle eerlik en opreg doen, asof julle dit vir Christus doen.
Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie.
Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort,
en doen wat God van julle vra so goed julle kan.
Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here.
Laat dit straal uit alles wat julle doen.
Vir die base wil ek vra om die mense wat onder hulle werk net so te behandel.
Moenie hulle die hele tyd met slegte dinge dreig nie.
Onthou dat julle en die mense wat onder julle werk dieselfde Here in die hemel het.
Hy trek niemand voor nie, maar behandel almal eenders.”

Doen jou werk uitstekend, of jy nou ‘n werkgewer of ‘n werknemer is….
Want jy doen dit vir die Here. Jy wil God se hart daarmee bly maak.
Ook die base is niks anders as dienaars nie. Dienaars van God!
Hulle moet maak soos God van hulle vra!

Base moet vandag nog werk met die spieël/verster beginsel.
Wanneer dinge in hul besigheid goed gaan,
maak hulle die venster oop en wys na hulle werkers.
Hulle gee erkenning aan hul werkers daarvoor.
Wanneer dit sleg gaan, hou hulle ‘n spieël op,
en vra wat hulle as base kan doen om dinge te verbeter.
Wanneer werkers en base dit wat hulle doen, vir die Here doen,
sal dit geseënde verhoudinge meebring.

Ernest