Rich Mullins skryf ‘n lied waarin hy iets sing soos:
Here, hou my styf vas. Ek bewe soos ‘n riet in stormwind.
U is die Koning van my lewe.
Verander my van ‘n bewende riet na ‘n soliede rots.
Wanneer ons deur moeilike tye gaan kan ons weet:
As daar een ding is wat sekerder is as die son wat opkom in die oggend,
en sak in die aand, is dit die feit dat die Here jou vashou,
wanneer jy “bewe soos ‘n riet.”
Ons kan saam met dit ook vashou aan Prediker 3:1,4:
“Elke ding het sy vaste tyd. ‘n Tyd om te huil, ‘n tyd om te lag,
‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans.”
Salomo het ‘n getroue raadgewer Benaja gehad.
Hy het by ander mense gespog dat hy enige opdrag kon uitvoer.
Sommige mense het keelvol daarvoor geraak,
en vir Salomo gevra om aan Benaja ‘n onmoontlike taak te gee.
Salomo het vir hom gesê hy moet vir hom ‘n ring gaan soek,
‘n ring wat mense wat gelukkig is hartseer sal maak,
en mense wat hartseer is gelukkig sal maak.
Benaja het vir ‘n lang tyd gesoek en kon nie so iets kry nie.
Uiteindelik het hy teruggegaan na die deel van Jerusalem
waar hy grootgeword het.
Hy het met ou mense uit sy kinderjare gepraat,
wat gesê het hulle dink hulle sal hom kan help.
Hulle het vir hom ‘n ou ring gewys,
en toe Benaja lees wat daarop staan,
het hy geweet dit is die regte boodskap!
Hy het die ring vir Salomo gegee,
en Salomo het die woorde op die ring gelees en gesê ;
hulle wat die ring sien sal hartseer word as hulle gelukkig is,
en gelukkig word as hulle hartseer is!
Almal was nuuskierig oor wat op die ring staan!
Die woorde op die ring was:
“Dit sal óók verbygaan.”
Gelukkige en hartseertye kóm, én gáán…
Dit is wat bogenoemde teks uit Prediker sê.
Maar van een ding kan ons seker wees:
Ons tye is in God se hande!
Psalm 31:16:
“My tye is in U hand.”
Dit is die veiligste hande om ooit in te kan wees!
Ernest