David Nicholas het gesê:
“God se beloftes is soos die sterre:
hoe donkerder die nag, hoe helderder vonkel hulle.”
Wanneer ons deur moeilike tye gaan kan ons dit inderdaad onthou.
Ons moet ook in moeilike tye Romeine 8:37 onthou:
“In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars,
deur Hom wat vir ons liefhet.”
Dit laat jou doelbewus sekere dinge doen:
Staan weer op.
Die lewe bestaan uit val en opstaan.
Dit is hoe jy opstaan wat tel!
Word stil by God.
Al is dit hoe moeilik,
God verstaan jou emosie en worsteling die beste!
Maak ‘n breek.
Oefen. Gaan stap. Speel. Ontspan.
Dit is alles seëninge van die Here, en dit is terapie.
Gesels met vriende.
Ons kan nie alleen oorleef nie.
Daarom gee God die geloofsgemeenskap,
waarvan ons deel vorm, die liggaam van Christus,
waarvan elke lid nodig is, om mekaar in liefde op te bou.
Vier fees.
Ons het in die grootste krisisse juis vreugde nodig.
Nou het jy nodig om gelukkig te wees saam met die Here,
doelbewus. Vier fees saam met Hom! Oorwinningsfees!
Ja jy het reg gelees…oorwinningsfees ten spyte van…
Dink positief.
Leer om soos Jesus te dink. Die Heilige Gees wil jou daarin lei.
Oorwinnend! Jy raak ontslae van “ek gee op”-gedagtes.
Jy is meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat vir jou liefhet!
Dit laat Psalm 18:30 uitroep:
“Met U hulp loop ek ‘n oormag storm,
met my God by my, is geen stadsmuur vir my te hoog nie.”
Ernest