Prediker sê ons sal nie alles van die lewe verstaan nie.
Nogtans is die lewe ‘n fees en daar om geniet te word.
Die Here Jesus het self in Johannes 10:10 gesê:
“Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
Die lewe wat die Here gee is diep,
vol betekenis en vreugde, en tog eenvoudig.
Daarteenoor is die lewe wat die wêreld ons aanbied vlak en ingewikkeld.
Advertensies, tydskrifte en televisie maak die lewe kunsmatig,
en laat jou bly jaag na iets wat jy nog nie het nie,
en “waarsonder jy nie kan leef nie”.
Wanneer jy inskryf vir daardie lewe,
voel jy dikwels leeg en gefrustreerd.
In die oorvloedige lewe wat die Here jou wil gee,
is daar drie dinge wat belangrik is. So eenvoudig is dit:
Jy is geliefd. Jy moet ander liefhê. Jy is uniek/spesiaal.
Ontdek eerstens dat die Here jou onvoorwaardelik liefhet.
Dit is waar die oorvloedige lewe begin waarvan Jesus praat.
Augustinus het gesê: “God het elkeen van ons uniek lief,
omdat daar net een van ons is.” Net een. Deur God self geskep.
Dan moet jy in die tweede plek ontdek dat jy ander moet liefhê.
Liefde is bedoel om uit te deel. Doen dit en ontdek ware liefde.
Victor Hugo, die Franse skrywer, het gesê:
“Wat ‘n wonderlike ding om geliefd te wees!
Wat ‘n wonderliker ding, om ander lief te hê.”
Weet in die derde plek jy is werklik uniek en spesiaal geskep,
deur God, vir Homself! Sien jouself soos God jou sien.
Moenie dat die wêreld aan jou dikteer hoe jy moet wees,
lyk en voel oor jouself nie.
Jy leef nie gesond omdat jy maer wil wees nie,
maar omdat jy die liggaam koester wat God aan jou gegee het.
Jy laat nie toe dat die openbare mening vir jou dikteer nie,
oor wat “in” is en wat “uit” is nie.
Jy is “veral versigtig met wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou hele lewe”, sê Spreuke 4:23.
Diane Ackerman het dit só gestel, om voluit te lewe:
“He who has a way to live can bear with almost any how.
I don’t want to get to the end of my life,
and find that I just lived the length of it.
I want to have lived the width and depth of it as well.”
Ernest